kitaar

Leslie Kohl (71) se liefde van sy vrou Hester het hom op sy pad na herstel ná twee beroertes geplaas en sy liefde vir kitaarspel het gemaak dat hy ’n plan prakseer het om steeds towerklanke uit sy kitaar te laat opklink. Foto: HEILIE COMBRINCK

Liefde oorwin alles.

Dít, in kort, som Leslie Kohl (71), bekende musikant, se lewe in ’n neutedop op.

Die liefde van sy vrou Hester het Leslie op sy pad na herstel nà twee beroertes geplaas en sy liefde vir kitaarspel het gemaak dat hy’n plan prakseer het om steeds towerklanke uit sy kitaar te laat opklink.

Leslie, deesdae inwoner van Cuy-lerhof in Kariega, was die hoofkitaarspeler van een van die Oos-Kaap se eerste en gewildste langarmdans- orkeste van die jare sestigs.

Musiek, sê hy, het hom nog altyd die gelukkigste gemaak.

“Musiek is my lewe. Na my beroertes (die laaste een was in 2017) was my regterarm verlam en drie vingers aan my regterhand gebreek. Maar met oefeninge en massering het my vrou Hester my só gehelp dat ek vandag my arm op ‘n manier kan gebruik om kitaar te speel.”

Die drie gebreekte regterhandvingers het inmekaargetrek, maar gelukkig het Leslie die gebruik van sy wysvinger en duim behou. “Ek het ‘n handskoen en plektra-gadget ontwerp waarmee ek nou die snare tokkel.”

Stanley Kohl, Sally Arnolds, Joey Moses, Cedrick Kohl, Leslie Kohl en Henry Uithaler. INLAS: Leslie Kohl in sy jonger dae met sy Fender-kitaar.

Leslie Kohl, Joey Moses, Stanley Kohl en Cedric Kohl aan die musiekmaak aksie tydens ’n langarmdans dekades gelede. Foto: VERSKAF

Leslie was reeds in 1965 die hoofkitaarspeler van die Mascot-orkes saam met sy broers Ernest (baskitaar) en Cedrick (ritmekitaar) met Ernest Kiewiet as drommer.

Later is die dromspeler vervang met Clemmie Burke en in 1968 het die Mascots hul eerste trofee as die jongste musiekgroep in die Oos-Kaap gewen.

In die 1970’s het King Jury Mpehlo (saksofoonspeler) by hulle aangesluit en die orkes se naam het toe verander na Kings Combo, Uitenhage se eerste langarmdans-orkes.

Kings Combo se voete-jeuk musiek het die dansvloere laat kreun.

‘n Paar jaar later het die saksefoonspeler Sally Arnold by die groep aan-gesluit en wèèr verander die orkes sy naam. Diè keer na Sally’s Dance Band met onder andere Herbert Jacobs, Stanley Kohl, Cedric Kohl, Henry Uithaler, Joey Moses, Tommy Buys en Rubin Starr as orkeslede.

In 1992 het Leslie popmusiek vir gospelmusiek verruil en later jare saam met Geoff en Cathy Taylor begin optree.

Leslie se Fender elektriese-kitaar waarmee hy dekades gelede se ritmes aangejaag het, is steeds aan sy sy. Maar dit is met sy nuwe Sanchez Spaanse-kitaar, ‘n geskenk van Hester, waarmee hy die kitaarmusiek vir sy nuutste CD, The Best of Leslie Kohl – Glory to God opgeneem het.

Leslie het vroeër ook die album Huldeblyk aan Sally’s Dance Band na sy beroertes uitgereik en daarrop kap hy dit uit met ‘n paar van die orkes se danstreffers.

Hy dra sy nuutste album op aan sy oorlede broers Stan en Cedric, sy ander broer Ernest Kohl, sowel as sy orkesvriende wat al die jare saam met hom musiek gemaak het.

“Manne soos Henry Uithaler, Jury Mpehlo en Joey Moses die musiekveteraan wat steeds briljante kitaarmusiek maak en deel was van die jare sestigs en sewentigs se gewildste groep The Invaders.

“Ek wou nog altyd ‘n CD opneem met ‘n paar van my gospel gunste-linge, ‘n paar eie komposisies en ‘n paar van die gewilde liedjies waarvan ek hou. Optredes is weens die pandemie nie meer ons beskore nie, daarom het ek die tyd gebruik om die CD op te neem,” sê Leslie.

  • Leslie se CDs is beskikbaar by hom (076 876 4328 of 041 922 6868); of by Kenneth Kohl 065 810 5693 of Ernest Kohl 084 754 6458.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article