Waar ’n wil is is ’n weg, veral as ’n kontantprys van R100 000 wink vir die rugbyklub wat die wenner van die Super 14-klubrugbyliga is.
Dit is die geval by Kirkwood-rugbyklub, waar die gemeenskap vlamgevat het in hul ondersteuning van hul dorp se rugbyklub wat vanjaar vir die eerste keer deelneem in die Super 14 klubrugby-reeks met dié gawe wenprys.
Volgens dr. Gawie Hobbs, voorsitter van die Kirkwood-rugbyklub se bestuursraad, is die klub in 1995 gestig en was dit die eerste rugby-klub in Suid-Afrika wat onder die destydse nuwe bestel saamgesmelt het.
“Vir ’n plattelandse span soos Kirkwood om te kon kwalifiseer vir die Super 14-klubkompetisie van die Oos-Kaap, is geskiedenis gemaak. Nie net vir die klub nie, maar vir die hele Sondagsriviervallei. Ons beskou onsself as ambassadeurs van die Vallei sowel as die Sarah Baartman-distrik,” sê Dr. Hobbs.
Vir die grootste gedeelte van die klub se bestaan het hulle in die plaaslike liga gespeel en is in 2019 gepromoveer na die OP Groot Uitdaagbeker-liga. Dit het die klub die geleentheid gebied om te kwalifiseer vir die Super 14 van die Oos-Kaap.
“Om te kon kwalifiseer, moes ons ons rugbyveld binne drie weke regkry. Ons kon dit nie sonder die gemeenskap en vrywilligers se hulp doen nie. Selfs gekwalifiseerde vakmanne het ingespring en gehelp. Ons is baie trots op ons gemeenskap wat eienaarskap van ons sportgeriewe geneem het.
“Verby is die dae van alles verniet kry. Borge wil sien dat daar groei is en daarom moet gemeenskappe hul deel doen en eienaarskap neem, want dit is tot hul voordeel.”
Wilma Samson het ook geskiedenis gemaak toe sy as Kirkwood-rugbyklub se eerste vroue vise-president verkies is.
“My hart is nog al die jare groen (Kirkwood-rugbyklub se kleur). Ek het self in my jong dae rugby gespeel. Dit is vir my lekker om die klub te dien. Ek sien ’n blink toekoms en die klub gaan aanhou om geskiedenis te maak.”
Len Charles, tans in sy vierde termyn die president van die Kirkwood-rugbyklub sê hulle is goed op dreef. “Die feit dat die gemeenskap eienaarskap van ons fasiliteite geneem het, is in belang van ons almal vir ’n beter toekoms.
“Tot die stoute outjies het kom help met die skoonmaak van die veld en herstel van die fasiliteite. Hulle hou nou ook ’n wakende ogie daaroor. Dit help baie dat dit nie weer gevandaliseer word nie. Dit is lekker as ’n gemeenskap hande vat en mekaar help om op te bou en nie af te breek nie.
“Wat ons spelers betref, is dit ’n span van uitblinkers. Ons manier van speel en hoe ons integreer, maak Kirkwoodr-ugbyklub uniek. Ons eerste span bestaan uit jong begeesterde manne.
“Ons is mos een familie op Kirkwood en nooi die hele gemeenskap om te kom kyk hoe ons manne speel,” sê Charles.
Kirkwood-rugbyklub se hoofafrigter is Con van Rooyen wat bygestaan word deur Jerome Bosch, voormalige afrigter van Gardens-rugbyklub. Die klub beskik oor ’n eerste-, eerste reserwe- en ’n tweede span.
“Ons beskou onsself as Giant Killers, want hier val groot reuse wanneer teen Kirre gespeel word. Soos ons leuse Aluta Continua sê, die stryd duur voort,” sê Dr. Hobbs.
Die klub bedank Kenny Thatcher wat hulle baie tegemoetkom met die vervoer van spelers na weg-wedstryde, sowel as Divan Havenga wat die klub borg met rugbytruie en oefenhemde.
Volgens Dr. Hobbs sal die klub graag meer ondersteuning uit die plaaslike sakegemeenskap wil geniet, veral in die vorm van skenkings soos balle, oefenklere en kouse, sowel as noodhulpitems.
Van die ander spanne in die Super 14-reeks is die verdedigende kampioene Progress, Harlequins, Ntlaza Lions (Umthatha), George Crusaders, East Rand United (Boksburg), Jeffreys Bay, Young Leopards, Gardens, Kruisfontein, Old Selbornians, Swallows, Moonlight, Park, en EL Police.
- Vir meer inligting oor Kirkwood-rugbyklub bel Wilma Samson by 063 395 1907.





