Vir meer as vier dekades was die Karoo Slaghuis in Kirkwood se hoofstraat ‘n gewilde stop vir inwoners sowel as besoekers aan dié dorp in die Sondagsriviervallei. Dié baken van kwaliteitvleis se deure sluit egter aan die einde van die jaar.
Johan Swart, eienaar van Karoo Slaghuis vir die afgelope 43 jaar sê, “Dit was uitstekende jare met goeie kliënte, goeie personeel en die slaghuis het ‘n goeie naam. Mense van oral het hier gestop vir biltong, droë wors of vleis.”
Karoo Slaghuis het verlede jaar ‘n gesogte Cleaver-toekenning gekry as een van die land se top 50 slaghuise.
“Dit het nou buitensporig duur geword vir klein slaghuise om in die huidige ekonomiese klimaat hul deure oop te hou. Vleis het hopeloos te duur geword. Daar is ook te veel nie geregistreerde slagters wat in hul agterplase slag, en dan wurg groot supermarkte ons ook.
“Ek glo in kwaliteitvleis, maar daar is ‘n groter groeiende mark wat goedkoop vleis verkies en dit is nie kwaliteitvleis nie.”
Swart sê boonop het die prys van derms ook die hoogte ingeskiet. Tot redelik onlangs is derms uit Holland ingevoer, maar deesdae kom die derms uit China.
“Dit het heeltemal hand uitgeruk. Ons het gewoonlik vir ‘n bossie 22-derms ongeveer R50 betaal en kon so 22kg vleis daarmee stop. Daardie selfde bossie derms kos nou sowat R300 sonder BTW.”
Een van Karoo Slaghuis se personeel, Lucky Scritch, werk die afgelope 30 jaar by die slaghuis.
“Lucky is ‘n uitsonderlike werker, in sy 30 jaar hier was hy net een dag afwesig.
“Daar is niks wat hy nie in ‘n slaghuis kan doen nie. Hy ken tot al ons resepte uit sy kop.”
Swart sê wild en vleis sal altyd deel van sy lewe bly. Hy was een van die stigters van die gewilde Kirkwood Wildsfees.
“Ek is steeds betrokke by die Wildsfees. Ek het ook baie kontakte in die wildsbedryf en met groot wildboere in ons omgewing, onder andere die grootste koedoeboer in die wêreld, Arthur Rudman. Ek wil betrokke raak met die aankoop en verkoop van wild,” sê Swart.
Karoo Slaghuis se deure sluit op 31 Desember 2022.





