Buddy Bear het Jeugdag in styl gevier saam met 100 behoeftige kinders by die Despatch Krieketklub.
Die dag was só ’n sukses dat die klub se bestuur besluit het die geleentheid kan weer volgende jaar daar gehou word.
Die verrigtinge het begin met Oom Dennis se gebed voordat die pret begin het met ’n opvoering deur die ATKV om die kinders te leer hoe belangrik dit is om te kan lees.
Volgens Dawid van der Merwe, Buddy Bear Oos-Kaap se verteenwoordiger, kyk hulle nou verseker met nuwe oë na boeke.
Die twee springkastele en Leon se treintjie het gesorg vir groot pret, terwyl Ursula en Theaan van die Agterplaas-kwekery elke kind gehelp het om ’n spekboom in ’n potjie te plant en hulle geleer hoe om dit te versorg by die huis.
Mev Oos-Kaap 2023, Christie-Leigh Gouws, en Mr Prestige SA 2023, Llewellyn Barnard, het ook ’n groot indruk gemaak.
Die kinders is elkeen huis toe met ’n kleurvolle frisbee, ’n spoggerige handgemaakte rugsakkie met ’n gebreide beertjie en mussie, asook ’n hopie lekkergoed om later te geniet.
Buddy Bear Oos-Kaap is dankbaar aan elke persoon wat ’n rol gespeel het in die dag, insluitend die SAP, Volkswagen Community Trust, Pikanini Chefs, Pick n Pay Despatch, Beerhuizen, Havana Lounge en Superspar Despatch.
“Dit was ’n voorreg om hierdie Jeugdag saam die kinders, borge en ondersteuners te kon geniet,” het Van der Merwe gesê. “Die glimlagte op almal se gesigte was bewys genoeg dat die dag ’n reuse sukses was!”
- Buddy Bear is tans besig met hulle volgende projek: die vul van rooi en groen gebreide kerskousies met lekkergoed wat hulle dan in Desember uitdeel aan kinders van die gemeenskap. Enige organisasie of individu wat wil deelneem of bydra kan vir Dawid kontak by 083 397 6002 of dawidvandermerwe33@gmail.com.





