Kelly Oosthuizen, ‘n graad 12 leerder van Hoërskool Despatch gaan haar klein dogtertjie droom hierdie week bewaarheid deur haar eerste digbundel bekend te stel.
Dié hoogtepunt in die 19-jarige digter se lewe gebeur Saterdag om 13:00 by Bargain Books in Corkwood Square Mall op Kariega.
“Ek het definitief ‘n groot droom in 2022 bereik om op 19 jarige ouderdom – ‘n volle twee jaar voor dit bo-aan my to-do lys verskyn het – ‘n digbunel uit te gee,” sê Kelly.
“Ek is absoluut mal oor digkuns en het ‘n groot liefde vir skryf. Ek probeer gedigte skryf sodat as mense dit lees hulle kan besef dat hulle nie alleen is nie. Dat dit normaal is om sekere emosies te ervaar.”
In Kelly se digbundel met die titel Alter Ego, wys dit die leser hoe die skrywer al meer onafhanklik raak van haar alter ego en haar eie braafheid ontdek. Die digbundel is deur Wild Sunshine Media uitgegee.
Saterdag sal Kelly van haar digkuns voorlees. Daar sal ook ander plaaslike skrywers soos Adelle Gascoyne en Hennie du Toit van hulle werke voorlees.
Die publiek word uitgenooi om die bekendstelling by te woon en bywoning kan by Juan van Rooyen, bestuurder van Bargain Books bevestig word by 041 180 4390.




