Dougie Roman en sy vrou Janey. Foto: VERSKAF

“Gaan heen en verkondig”, was die mantra waarvolgens Dougie Roman onwrikbaar geleef het. Dit is ook die mantra waarvoor hy gesterf het.

Kariega en die Oos-Kaap het verlede week ’n musikant van formaat aan die dood afgestaan. Roman is 73 jaar gelede gebore in die stofstrate van Kabah woonbuurt.

Kabah was die bakermat van musiek sedert die vroeë sestigs wat musieklegendes soos Johnny Dennis, Freek Simon Blaasorkes, Arthur Bala (vader van Zwai en Loyiso Bala), Sally Arnolds en die Christadelphians opgelewer het.

Roman, ‘n trompetspeler, was ‘n stigterslid en leier van die Christadelphians sedert 1969. Dié groep was bekend regoor Suid-Afrika en het vertonings oor die lengte en breedte van die land gehou.

In die middel tagtiger jare het die groep ’n toer onderneem na Griekeland, Israel en Egipte.

Toe Jesse Jackson, Amerikaanse menseregte-aktivis vir die eerste keer Suid-Afrika besoek het, was dit die Christadelphians wat op die verhoog saam met hom aangetree het. Ook is opgetree in Ginsberg, geboorteplek van Steve Biko. Die groep is aangevuur deur musiek-invloede soos Gibson Kente (Bra Gibb), The Golden Gates en selfs sangers soos Bill Gaither en andere.

Dougie was n gesinsman by uitstek en hy en sy vroulief Janey het vyf kinders. Twee van hulle is in Europa en in Nieu-Seeland gevestig.

Hy het die gemeenskap van Uitenhage passievol en met toewyding bedien en het op verskeie rade gedien.

Jan F E Cilliers kon netsowel na Dougie verwys het het in sy gedig: “Stil broers, daar gaan n man verby, hy groet, en dis verlaas, bekyk hom goed.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article