Lionel Martin (51), ‘n liggaamsbouer van Kariega, het vanjaar arms vol trofeë in sy kategorie by verskeie provinsiale en nasionale kompetisies gewen en hy is in die Suid-Afrikaanse span ingesluit wat gedurende November in Birmingham aan die wêreld-kampioenskappe gaan deelneem.
Lionel berei tans voor om op 20 November aan die Physical Culture Association (PCA) Fitness & Bodybuilding Federation wêreldkampioenskappe as liggaamsbou-veteraan deel te neem. Hy is die enigste Oos-Kapenaar wat in die Suid-Afrikaanse span ingesluit is.
Lionel het in 2009 met liggaamsbou begin en sê, “Dit is my passie, my leefstyl. ‘n Mens se kop moet net so sterk soos jou liggaam wees. Dit gaan nie net daaroor dat jy liggaamlik goed lyk nie, ‘n mens moet jou gees ook gesond hou.”
“Mense het ‘n miskonsepsie oor gimnasiums. Dit gaan nie net oor spiere bou en ‘n mooi liggaam nie, dit leer jou dissipline, ‘n goeie leefstyl, en vele aspekte van menswees en die lewe. En ek hou daarvan om my kennis en ervaring te deel.”
Dit doen hy by sy gymnasium wat by Gamble Street High School ingerig is.
William Human, skoolhoof, sê Lionel se gimnasium en sy betrokkenheid om leerders sowel as onderwysers te help met oefeninge maak ‘n groot verskil.
”Dit maak my hart bly om te sien dat die seuns belangstel om te oefen. Die liggaam moet gekondisioneer word wanneer hulle aan sport deelneem. Ek kan sien hoe hulle ontwikkel en dit maak my opgewonde. Ek sou wou sien dat meer jongmense hulle eerder wend tot oefeninge as om betrokke te raak by dwelms en bendebedrywighede.”
Ontbyt en disko
Om geld in te samel vir Lionel om by die wêreldkampioenskappe in Birmingham te kan deelneem bied hy Saterdag ‘n ontbyt en ‘n disko-dans aan. Die sjampanje-ontbyt is om 09:00 by die Jubilee Hotel en kaartjies is R100 per person. Die disko en dans is ook by die Jubilee Hotel om 19:00 en musiek sal gemaak word deur Dr Beat, Davey D, DJ Superman, El Diestro, Earl Peterson, DJ Ranie, B-Side. Kaartjies is R50 & R30 en die tema is swart en wit. Vir meer inligting of kaartjies bel Lionel Martin by 079 289 2446.





