Lede van die Oeswana-stam op Kariega (van links) is Khoi Opperhoof Ras Axe, Hoofman Hilton Prince, Opperhoof Johannes Steenkamp, Opperhoof Gert Steenkamp, Tarra Juliana Steenkamp, Hoofvrou Des Prince en Hoofman Patrick Lambaatjeen.

Foto: Heilie Combrinck

Om die Nama-taal (Khoe-khoegowab) te laat herleef en bevorder, is ‘n bewustheidsprojek begin om die jeug een van die oudste inheemse tale aan te leer.

Nama word as ‘n vak aangebied by skole in Kuboes en Riemvasmaak in die Noord-Kaap. Op Kariega woeker die Oeswana-stam om ook in die Oos-Kaap dié taal weer sy regmatige plek te gee. As deel van die projek het 70 kinders van die Oeswana-stam aan die Nama-taalontwikkelingprogram deelgeneem onder leiding van James Mapanga, Nama-taalontwikkeling projekbestuurder en professor Isak Dirkse van Namibië.

“Die kinders het merkwaardig presteer. Alle grade het dieselfde eksamen gedoen. Hulle moes Nama skryf en praat. Vir ‘n graad 2-leerder om 87% te kry is uitstekend,” sê Danagaob Gert Steenkamp, opperhoof van die Oeswana-stam.

“Hulle moes ook in Nama tel, bid en die volkslied sing. Die kinders is honger om die Nama-taal te leer en daarom was dit so suksesvol.”

Volgens Steenkamp was dit die eerste keer dat die Nama-taalontwikkelingprogram in die Oos-Kaap aangebied is sedert dit in 2019 by Riemvasmaak bekendgestel is.

Die toppresteerders was Jordan January (graad 5, Uitenhage Primêr) met 100%; tweede was Raltin-Junior Reens (graad 11, Uitenhage High) met 93%; en in die derde posisie was Makenzie Steenkamp (graad 2, Dalrose Primêr) met 87%.

Volgens Steenkamp is die volgende proses dat dié Oeswana-stam kinders in Julie hulle Nama-kultuurname gaan kry wat deur professor Dirkse ingeseën sal word. In September gaan ‘n Nama-massasaamtrek in Riemvasmaak gehou word.

“Daar gaan selfs afgevaardigdes vanuit Nieu-Seeland en Australië se Maori’s die saamtrek bywoon omdat ons saam met inheemse volke regoor die wêreld kommunikeer,” sê Steenkamp.

Lede van die Oeswana-stam op Kariega (van links) is Khoi Opperhoof Ras Axe, Hoofman Hilton Prince, Opperhoof Johannes Steenkamp, Opperhoof Gert Steenkamp, Tarra Juliana Steenkamp, Hoofvrou Des Prince en Hoofman Patrick Lambaatjeen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article