Alton Senekal (links) en sy broer Riaan Senekal is die enigste twee Oos-Kaapse brandweermanne wat aan die Wêreld-Brandweerpele in Portugal gaan deelneem.

Foto: Heilie Combrinck

Om in die Gamtoosrivier swem te oefen omdat swembaddens leeg is en om met ‘n brandweerwa te moet koes vir slaggate, bokke, beeste en voetgangers, is van die wilde-wragtig-vaardighede wat twee brandweer-broers van Kariega gedugte teenstanders by vanjaar se Wêreld-Brandweerspele in Portugal gaan maak.

Alton Senekal en Riaan Senekal, twee stasie-offisiere van KwaNobuhle brandweerstasie, is die enigste twee Oos-Kapenaars in die Suid-Afrikaanse brandweerspan wat van 30 April tot 7 Mei in Lisabon aan in die 14de Wêreld-Brandweerspele gaan meeding.

Dit is Alton se vyfde wêreld-brandweerspele en Riaan se sesde spele agter hul name. Brandweermanne en -vroue van 41 lande gaan in sowat 40 sportitems meeding.

“Ek gaan vir die eerste keer aan die brandweerwa-bestuurskompetisie deelneem en sien baie daarna uit,” sê Alton.

Riaan spot en sê sy broer behoort goed te doen, “ons is al so gewoond om elke keer in nou straatjies tussen sinkhuise te ry en heeltyd op die uitkyk te wees vir slaggate, honde, bokke, beeste en voetgangers. Die ander ouens het nie sulke goeie oefengeleenthede nie.”

Riaan, ’n inwoner van Gamtoosriviermond, gaan vanjaar vir die eerste keer aan swem (50 meter vryslag) deelneem.

“Daar gaan baie deelnemers wees. Maar my voordeel is dat ek in die Gamtoosrivier met sy inkomende en uitgaande seegetye geoefen het,” sê Riaan.

Die Senekal-broers het vanjaar vir die eerste keer boot camp by Marinda en Leane Singleton as deel van hul voorbereiding gedoen. “Ons was nog nooit so fiks nie. Ons wens ons het al vroeër in ons lewens boot camp begin doen. Dit is ongelooflike goeie oefeninge,” sê Riaan.

Beide broers is verdedigende wêreld-brandweerspelekampioene, Alton in muurbal (2010, 2012 en 2018) en Riaan in hamergooi (2010, 2012 en 2018) en skyfwerp (2018). Hulle is ook die 2018 dubbelspelkampioene in hoefystergooi en was deel van die Suid-Afrikaanse toutrekspan wat in 2010 gewen het.

Riaan gaan vanjaar hoefystergooi, swem, spiesgooi, skyfwerp, gewigstoot, hamergooi, toutrek. Alton het ingeskryf vir hoefystergooi, toutrek, trappe-hardloop, brandweerwa-bestuurskompetisie en Toughest Firefighter Alive.

Die vorige wêreld-brandweerspele waaraan hulle deelgeneem het was in 2018 in Chungju, Korea. Die 2020 spele het weens die pandemie nie plaasgevind nie.

Met die volgende brandweerspele in 2024 wil Alton en Riaan ook inskryf vir die brandweer-kookspan.

“Riaan kan baie lekker kos maak. Kyk hoe lyk hy, daar is mos nie ‘n maer sjef nie,” spot Alton.

Riaan Senekal (links) en sy broer Alton Senekal is die enigste twee Oos-Kaapse brandweermanne wat aan die Wêreld-Brandweerpele in Portugal gaan deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article