“JUFFROU Rennie” van Uitenhage, die eerste vrou in Suid-Afrika wat as ’n skoolhoof by ’n staatskool aangestel is, se 99ste verjaardag is op 11 November gevier.
Oudergewoonte het ’n paar van Phyllis Rennie se oud-kollegas, sowel as een van haar oud-leerders, die 84-jarige Rita Ricketts, haar op haar verjaardag verras.
“Sy was my standerd 3 onderwyser. By haar het ek die fyn kuns van naaldwerk geleer,” sê Ricketts.
Juffrou Rennie het haar onderwys-opleiding by Dower Kollege op Uitenhage voltooi en is tans die langslewende voormalige student van dié kollege.
Haar eerste onderwyspos was by St. Joseph Primêr en daarna het sy by Jubilee Park Primêre Skool skoolgehou. In 1967 is sy aangestel as hoof van Jubilee Park Voorbereidingskool. Dié aanstelling van Juffrou Rennie het bygedra dat Jubilee Park ’n skool van voorkeur was vir baie leerders.
“Te danke aan Juffrou Rennie, was daar in daardie tyd in graad 4 nie ’n enkele kind wat níé kon lees met begrip nie,” sê Hamilton Petersen, ’n voormalige hoof van Jubilee Park Primêre Skool.
“Almal ken haar as ’n baie standvastige mens vir wie dissipline eerste gekom het. Dit was ook vir haar belangrik om individuele aandag aan kinders te gee, om elke kind se naam te ken, te weet waar hulle bly, of hulle naels kort is en of hulle ’n sakdoek het.
“Sy was baie lief vir kinders en onder haar leierskap het die voorbereiding- en primêre skool se getalle gestyg met meer as 1 000 leerders,” sê Petersen.
Buiten haar toegewydheid in die klaskamer het Juffrou Rennie ook musiek- en klavierlesse aangebied en sy was ’n ywerige tennisspeler.
Sy het ook ’n groot rol gespeel om ’n toneelgroep op die been te bring wat jaar na jaar die wenners van die destydse Rotariëerfees was.
Na meer as 40 jaar in die onderwys het sy in 1981 afgetree en was die orrelis by St Josephs Katolieke-kerk.
Alhoewel haar geheue nie meer helder is nie, kan sy wel hier en daar dinge oor die verlede onthou.
Elke dag is ’n dag vol genade vir Juffrou Rennie.




