Juané van Zyl.

Foto: Heilie Combrinck

Solank die fietsspeke sing en die grondpaaie aanhou kronkel tussen bosse en berge, is bergfietsryer Juané van Zyl (15) van Kariega op haar gelukkigste.

Dié dinamiese jong fietsryer het verlede jaar ernstig begin trap en is besig om vinnig opgang te maak as opkomende bergfietsryer en werk hard aan haar droom om eendag internasionaal te kan deelneem.

Juané het laasnaweek aan die The Herald MTB 60km Challenge by Addo deelgeneem en het sewende in die vroue kategorie geëindig en eerste in haar ouderdomsgroep.

Voor dié wedren het sy verlede jaar aan die Merrell Tsitsikamma MTB fietswedren deelgeneem waar sy die algehele wenner in die vroue-afdeling was. So-ook was sy die algehele wenner in die vroue-afdeling van die G2C Grahamstown 2 Sea (58km) tussen Makhanda en Port Alfred.

Mal oor fietsry

“Ek is mal oor bergfietsry. Dit is my happy place. Op die fiets is ek is baie gefokus en geniet elke oomblik,” sê Juané, ’n graad 10 leerder aan Die Brandwag Hoërskool.

Dit was toe sy op haar ma, Minette van de Vyver – ook ’n kranige bergfietsryer – se fiets vir die sports gery het wat Juané besef het sy hou van dié adrenalien-gevoel.

“Op 31 Desember 2021 het my ma en pa my verras met my eie fiets, ’n Trek Fuel EX 9.7 met dubbel-suspensie. Dit was ’n groot bederf.”

Volgens Minette het Juané sedert sy begin fiets-ry het, nog elke keer in haar kategorie gewen.

Juané van Zyl (15) van Kariega het verlede jaar ernstig begin bergfietsry en het reeds ‘n paar draaie op die podium gemaak.

Haar eerste amptelike wedren waaraan Juané deelgeneem het, was die 2022 The Herald 30km by Addo. In die Angora Classic het Juané vir die eerste keer op die podium gestaan met ’n algehele tweede plek in die vroue-afdeling. In haar eerste 60km wedren, die uitmergelende Trans-Elands, was sy algeheel sewende.

Sy het ook ’n padfiets, maar ry dit net vir interval-oefeninge saam met haar afrigter, die oud-provinsiale fietsryer Gavin Schoombee.

“Ek oefen elke dag. Die afstande en intensiteit van elke dag verskil. Sondae trap ons gewoonlik baie ver, soos die 127km retoer roete van hier af deur Addo, op met die pas, tot by die Zuurberg-hotel en terug,” sê Juané.

“Ons het ’n mountain bike groep op WhatsApp met fietsryers van Despatch en Uitenhage. As iemand wil gaan ry, dan vra hulle net. Daar is altyd iemand wat sê hulle sluit aan by ons. Ek is die tweede jongste in die groep.”

Sy is ook ’n lid van die Madiba Bay Youth Cycling Club met Luca Fanicchi as die afrigter.

Queen of the Mountain

Minette sê plaaslik is daar die MTB Aloe Trails (10km, 6km, 2.5km) wat Donald Tuck en ander fietsryers saam met haar en haar man Louis van der Vyver ontwikkel het in die berge agter die konsentrasiekampterrein. Hulle is tans besig om nog langer roetes oop te kap.

“Op Strava is Juané met al drie die Aloe roetes die Queen of the Mountain. By baie van die ander roetes is sy algeheel onder die top tien.”

Met Moeder Aarde het Juané al verskeie kere goed kennis gemaak, maar Juané sê elke sport het sy beserings. “Ongelukke verskerp jou sintuie en vaardighede, want jy wil nie wéér seerkry nie.”

Wat haar toekomsplanne betref sê Juané, “Baie fietsryers bereik hierdie ideaal deur vir ’n universiteit te ry. In ’n ideale wêreld is dit ook wat ek graag sal wil doen. Om ‘n universiteitsbeurs met my fietsry te kry.”

Intussen doen sy elke dag waaroor sy mal is, bergfietsry, en oefen vir die wedrenne wat wag: Die Hayterdale Classic, Angora Classic, Bay by Bike, en First Choice Classic in Jeffreysbaai.

Juané van Zyl het onlangs aan die The Herald MTB 60km Challenge by Addo deelgeneem en het sewende in die vroue kategorie geëindig en eerste in haar ouderdomsgroep.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article