Op Kariega het tien jong potspel-spelers geskiedenis gemaak toe hulle vir die Nelson Mandelabaai se eerste o.14-potspelspan gekies is. Dié nege seuns en een meisie, almal van die Black Eagles-potspelklub, gaan nou op nasionale vlak in Saldanha meeding.
“Dissipline is die hoogste prioriteit in hierdie spel. Dit is bemoedigend om te sien hoe hierdie jonges die reëls gehoorsaam, uitsien om deel te neem én die spel baie geniet,” sê Koos Witbooi, voorsitter van die Black Eagles-potspelklub op Kariega.
Hy en sy vrou Shireen, albei potspel-kampioene op provinsiale en nasionale vlak sowel as skeidsregters, het besluit om ‘n perseel uitsluitlik vir potspel-ontwikkeling in te rig.
“Potspel word geassosieer met tavernes en kroeë. Dit is nie waar ons kinders toelaat om potspel te leer speel nie. Daarom het ons hierdie perseel toegerus slegs vir potspel. Die woord het soos ‘n veldbrand versprei dat kinders hier potspel geleer word en die belangstelling groei steeds,” sê Koos.
Gavin Myburgh, skakelpersoon van die Nelson Mandelabaai Potspelvereniging en ‘n bestuurslid van Potspel Suid-Afrika sê, “Daar was nog nooit ‘n o.14-span nie, maar die talent maak my opgewonde. Dit is beslis opkomende nasionale kampioene wat hier op Kariega die kuns van potspel geleer word. Wat Koos en Shireen vir die jonges in potspel beteken is ongekend en uniek.”
Volgens Shireen spoel die dissipline van potspel oor na die kinders se leefwyse en help selfs met skoolverpligtinge. Soveel so dat daar voor potspel-lesse en oor vakansies tuiswerk in die potspel-saaltjie gedoen word. Valentine Witbooi, ‘n onderwys-assistent by Seagull Primêr, het dié verantwoordelikhied op haar geneem om die kinders met hul leerwerk te help.
Hoenderbraai om geld in te samel
Dié nasionale kampioenskap vir die o.14-potspel-spelers word van 26 Junie tot 2 Julie op Saldanha aangebied en die kostes om dié groep entoesiastiese jong spelers daar te laat deelneem, is R40 000. Om die nodige geld hiervoor in te samel, hou die Black Eagles-potspelklub elke tweede week ‘n hoenderbraai. Die klub het ook ’n beroep op die publiek gedoen om hierdie hoenderbraaie te ondersteun sodat dat Kariega se jong potspeltalent op nasionale vlak kan meeding.
Buiten die o.14-spelers is daar ook vyf vroue van die Black Eagles wat die Nelson Mandelabaai-metropoolspan op Saldanha gaan verteenwoordig. Dit sluit Shireen en drie van haar dogters, Valentine, Michelle en Levinia in, sowel as Christal Mulligan en Karen Johnson.
- Vir meer inligting oor Black Eagles se potspel-ontwikkeling of om die klub met donasies te ondersteun, bel Shireen Witbooi by 084 563 5852.





