TWEE jong vroue het hul spierkrag gewys en OP-rekords verbeter tydens die Oos-Kaap Kragoptel-kampioenskappe wat onlangs by Cape Recife Skool gehou is.
In die borsopdruk-afdeling het Anika Ferreira (17) ’n graad 11 leerder van die Hoërskool Brandwag, die OP-rekord in die sub junior o.63kg divisie gebreek met die 55kg wat sy opgestoot het.
Heike Groenewald het in die kragoptel sub-junior 69kg divisie die OP-rekord in dooiegewig gebreek toe sy 115kg opgetel het.
Die twee kragoptel-atlete is Saterdag weer in aksie by die Suid-Afrikaanse Borsopdruk-kampioenskappe wat by Cape Recife Skool gehou word. Kragoptellers van regoor die land sal hier kom kragte meet.
Anika Ferreira se afrigter is Ilze-Mari Maritz, ’n lewenswetenskap-onderwyser by Brandwag. Ilze-Mari was self ’n OP kragoptel-kampioen en het ’n sewende posisie by die Wêreldspele en eerste plek by die Statebondspele behaal. Sy sê Anika is ’n uitstekende veelsydige atleet.
“Sommer aan die begin van Anika se graad 8 hier by Brandwag, het ek gesien hoe sy op die atletiekbaan optrekke en allerhande ander opwarm-oefeninge doen. Ek het gesien sy is van nature baie sterk en het geweet sy het talent vir kragoptel.
“Anika het met haar eerste deelname aan ’n kragoptel-kompetisie gewen. Vier jaar later doen sy dit steeds en breek rekords. Sy is veral goed in die afdelings vir borsopdruk en dooiegewig.”
“As mens het sy ook ’n sterk karakter en haar denkpatroon is gedissiplineerd. Anika kan fokus, is toegewyd en goed in alles wat sy doen. Op akademiese vlak is sy ook ’n uitblinker.”
Anika, ’n plaaskind van Patensie en die dogter van die bekende mediese praktisyn, dr.
Adi-Mari Schoeman van Women-4-Life, sê hoekom sy van die sport hou: “ Ek hou van oefen. Dit is lekker om na ure se harde werk en oefen in die gimnasium te kan deelneem en die resultate te sien. Ek hou van uitdagings en wil my prestasies verbeter. Dit is vir my lekker.”
“My ideaal is om met 57kg of 60kg borsopdruk in ’n kompetisie te slaag. En in dooigewig het ek my staan verander en wil dit sterk kry.”
Anika is verlede jaar as reserwe gekies vir die Suid-Afrikaanse kragoptelspan om in Belarus aan die wêreldkampioenskappe te gaan deelneem, maar dit is weens die COVID-19 pandemie afgestel.
Maar sy en haar afrigter hoop dat dié geleent-heid weer oor haar pad sal kom.
Buiten kragoptel is Anika ook ’n kranige netbalspeler, atleet en sy doen perdry en skiet. Sy sê haar droom is om eendag, soos haar ma, in die mediese bedryf suksesvol te wees en ’n verskil in die samelewing te maak.




