’n JONG tennispeler van Despatch, Chanté Mulder, is een van slegs 32 van die land se top spelers wat deur Tennis Suid-Afrika genooi is om aan die nasionale junior tenniskampioenskap in Bloemfontein deel te neem.
Dié kampioenskap word van 29 Oktober tot die 2 November in die Rosestad aangebied.
Chanté het aan die begin van die jaar die provinsie in twee sport kodes, tennis en atletiek, by nasionale byeenkomste verteenwoordig. Wat haar prestasie besonder maak is dat sy 13 jaar oud is, maar in die o.15 ouderdomskategorieë deelgeneem het.
Chanté was in 2018 ook gekies vir die Tennis Suid-Afrika se o.12 nasionale oefengroep.
Alhoewel Chanté nog ’n leerder van Laerskool Frans Conradie op Despatch is, is sy in die 1ste kwartaal ingesluit in Brandwag Hoërskool se 1ste tennisspan. Sy het ook haar wedstryde wat sy vir Brandwag ge-speel het gewen.
Buiten om ’n uitblinker op die sportveld te wees (sy is ook ’n senter op die netbalbaan) is Chanté ’n slimkop en presteer op akademiese-gebied met ’n A-gemiddeld.
Dit is nie waar haar talente stop nie, want op kultuurgebied is sy ook ’n uitblinker in musiek (blokfluit vlak 5) en redenaars. Sy was die naaswenner van Frans Conradie se redenaarskompetisie en een van vier leerders wat aan die ATKV redenaarskompe- tisie sou deelneem wat weens die inperking nie gebeur het nie.
Chanté is voorwaar ’n junior sportster en al haar prestasies verg harde werk en deursettingsvermoë.



