Anthony Mostert van Kariega is ’n jong man met visie. Op die jeugdige ouderdom van 22 het hy onlangs sy eerste digbundel, Gekraakte Jeug, vrygestel, en hoop om daarmee ander jeugdiges te inspireer.
“Ek wil graag hê die jeug moet weet dat daar hoop is vir hulle, al voel hulle hopeloos. Hulle moet weet dat hulle saak maak,” sê hy.
Dié oud-leerder van die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar, sê hy was nog op die skoolbanke toe die skryfgogga hom byt.
“In graad nege het die juffrou ’n fiksiewerk vir die klas gelees, en sy het op so ’n manier voorgelees dat dit die karakters lewe gegee het. Ek was gefassineer en het net daar besluit ek wil ook eendag so skryf dat ek die karakters lewe gee.”
Maar dit sou nie oornag gebeur nie. Sy eerste poging om ’n boek te publiseer het misluk en hy het toe vir ’n paar jaar sy pen neergesit.
Dit is eers nadat hy verlede jaar ’n poësiewerkswinkel bygewoon het, dat hy sy liefde vir skryf herontdek het. Dit is hoe Gekraakte Jeug – ’n bundel met 30 gedigte – begin gestalte kry het.
“In die bundel is daar groot fokus op die jeug, en ’n paar gedigte handel oor die uitdagings wat ons as jongmense in die gesig staar. Daar is ’n paar van my eie probleme wat ek deurgemaak het en ook ’n paar van ander mense se ervaringe.” Mostert sê hy probeer aan die einde van elke gedig ’n oplossing verskaf – dikwels oplossings wat hom persoonlik gehelp het.
Mostert erken dat die mislukking van sy eerste poging hom erg geknou het en hy vir ’n ruk lank nie in homself geglo het nie, maar nadat hy omring was deur ander jongmense met dieselfde liefde vir skryf het dit hom weer die motivering gegee om die pen op te tel.
“Ek was eers bietjie skepties oor hierdie digbundel ook, maar ek het geweet ek is in staat om dit te doen as ek regtig wil. En toe het ek.”
Hy glo dat dat daar nog vele boeke uit sy pen sal kom na Gekraakte Jeug, en hy sal ook eendag graag ander opkomende skrywers wil help om hul werk te publiseer, juis omdat hy weet hoe moeilik dit kan wees.
Om boeke te skryf is nie al wat in Mostert se toekomsplannie is nie, en hy is tans besig om predikantskursusse by te woon by die Roselane Congregational Church.
“Ek glo dit is my roeping om ’n predikant te word en ook so ’n verskil te maak in mense se lewens.”
- Diegene wat belangstel om sy boek te koop teen R150 elk, kan hom kontak op 067 824 9143 of mostertanthonyjohn21@gmail.com.


