’n LEERKAMP vir matrieks van John Walton Senior Sekondêre Skool op Uitenhage het bygedra dat dié skool se slaagpersentasie met 16% gestyg het.
Stephen de Bruin, skoolhoof van John Walton is verheug: “Daar is nou ’n klomp kinders van wie iets nóóit weggevat kan word nie, en dit is matriek.”
Hy sê die skool se mikpunt was om 2018 se slaagpersentasie van 62.7% met die klas van 2019 na 83% op te skuif, indien almal wat die kamp bygewoon het sou slaag.
“Alhoewel ons die mikpunt gemis het, is ons baie tevrede met John Walton se slaagpersentasie van 79.2%. Dit is regtig goed,” sê De Bruin.
“Ons het geweet taal gaan ons so bietjie knak, want ons leerders is swak in hulle huistaal. Drie matrieks het gedruip omdat hulle nie Afrikaans geslaag het nie.
John Walton is verlede jaar vir die eerste keer ingesluit in die Ilima-projek van die department van onderwys, waar matrieks die geleentheid gebied word om binne ’n leervriendelike omgewing vir hul bepalendste skooleksamen voor te berei. ’n Totaal van 57 John Walton matrieks, die kerngroep wat grensgevalle was, is geïdentifiseer om deel te wees van die leerkamp.
Twee afgetrede onderwysers, Ricardo Bacon en John Julies het by die leerkamp gehelp, sowel as Darion Cowie en oud-leerder Brunique Vaaltyn. Onderwysers word ingedeel om weeksdae by die kamp te slaap en ook toesig te hou.
“Ons probleem is nié dat ons leerders nie potensiaal het nie. Ons probleem is dat van ons leerders se omstandighede by die huis nie goed is nie en gevolglik het hulle ’n swak selfbeeld.
“Maar ek sê altyd vir hulle, maak nie saak waar ’n lelie groei nie, dit sal altyd ’n wit blom vir jou gee, want dit is deel van sy DNS. Netso is die potensiaal binne elkeen van die leerders,” sê De Bruin.
John Walton gaan beslis vanjaar weer die matriekleerkamp aanbied.
“Nou begin die harde werk. Dit is een ding om die standaard te stel, maar om dit te handhaaf en verbeter is ’n ander ding.”
V
’n RSG radio-dokumentêr oor Stephen de Bruin en John Walton word volgende Donderdagaand om 20:00 op RSG uitgesaai. Skakel gerus in en luister.




