Die Suziki Swift is ’n imposante kar wat nie net sag op die oog is nie maar werklik ook op die pad presteer. Foto: WILLEMIEN GREEN


“ONS kamp by Nature’s Valley, kom kuier,” het Potgieters uitgenooi.

Toevallig het ek dieselfde dag die nuwe Suzuki Swift gekry om te toetsbestuur, toe maak ons (ek en Liefie) so.

Ons pak ’n botteltjie jenewer (dalk twee) en genoeg tonic water om ’n weermag muskiete af te weer, en ’n kombers en ’n paar kussings in die karretjie en vat die pad.

Die Suziki Swift is ’n imposante kar wat nie net sag op die oog is nie maar werklik ook op die pad presteer. Dit is juis die 15-duim allooi wiele wat daartoe bydra dat hy so lekker stewig op die pad sit.

Hy is toegerus met ’n 1.2-liter petrol besparende enjin wat welkom is in die swaar ekonomiese tydperk wat baie van ons wel beleef.

Die unieke 3D-agterligte dra by tot die moderne gevoel van die kar.

Die Swift is seker eintlik bedoel as ’n stadskarretjie, maar soos Liefie hom beskryf hy het soos Cheslin Kolbe gebokspring toe na ’n laer rat oorgeskakel het toe ek stadige trokke moes verbysteek, iets waarvoor ek gewoonlik baie versigtig is.

Dit het die vorige nag in Nature’s Valley gereën, so daar was ’n paar modderpoele wat maar versigtig benader moes word, maar wat, die oulike karretjie het nie eens eenkeer vasgeval nie.

“Maar, maar waar’s julle tent?” het die Potties gewonder.

“Ons skuif net die voorste sitplekke agtertoe en slaan dit plat. Ons slaap in die kar.”

Toe maak ons so. Die sitplekke was so gerieflik soos die eersteklas sitplekke op ’n vliegtuig.

Na die aand se gekuier met genoeg tonic vir die verweer teen die muskiete natuurlik het ons soos soet babas deurnag geslaap om die volgende oggend met die getjirp van die voëltjies wakker te word omring met ’n asemrowende uitsig van die woud. Gewis sommer baie beter as ’n bedompige ou tent!

As dit nie vir die opwinding was om die Swift weer ou pad langs huis toe te moes bestuur nie, het ons sommer nog ’n paar aande in die Swift gekamp!

Die koste van die voertuig is ongeveer R219 900.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article