JAPTHASTRAAT op Uitenhage is vol uniekhede. As dit nie vir hul unieke straatmakietie is nie, is dit honde wat koerante steel of ’n kat se kattekwaad met Kersfeeskos.
Hammy Petersen se Sondagkoerant het twee keer uit sy werf verdwyn. ’n Briesende Hammy deel toe op die buurtwaggroep dat hy die skelm wat sy koerante steel, gaan vastrek met behulp van sy sekuriteitskameras.
Hy dreig ook om die koerantsteler by die polisie aan te kla, want, soos die meeste mense, is Hammy nou keelvol vir misdaad.
Tot Hammy se skok het hy die koerantsteler op sy sekuriteitskameras vasgevang. Nie ’n tweebeenskurk nie, maar ’n vierpotige!
Dit was toe al die tyd een van die straat se honde wat beide Sondae Hammy se erf betree het, die koerant in sy bek optel en heel kalm oor die straat loop met ’n “gebekte Sondagkoerant”.
Nog ’n onthulling op die kamera is die hond se medepligtige!
Duidelik vasgevang in beeldmateriaal stap ’n rondloperkat vooruit, gevolg deur die koerantsteler.
Hammy sê dit lyk altoos of die kat eers die omgewing fynkam en bespied.
Hammy se vrou, Jean, vertel dat sy ook een Kersoggend ’n bloutjie geloop het met een van die buurt se vierpotige inwoners.
Twee jaar gelede het sy ’n heerlike, gaar, glimmende gerookte ham (gammon) vir die Kers-feesmaal op haar kombuistafel laat afkoel.
’n Paar uur later bedank sy Hammy dat dit opgesny en in die yskas gebêre het.
Tot haar verbasing weet Hammy niks hiervan nie. In ongeloof kon die twee net ge-skok staar na “kat se kind” wat met ’n tevrede kyk in sy oë en blink bek, smul aan sy vroeë Kersete!
Japthastraat se honde en katte is uitge-slape en slim en oor ’n polisieklag om die koerantsteler vas te trek lag Hammy net.
En “kat se kind” lek reeds sy lippe af vir Kersfees 2019 se verrassing spesiaal vir hom op die kombuistafel.



