Nico Schamrel het Ns. Skrywershuis begin as uitgewer vir onbekende skrywers se boeke. Foto: HEILIE COMBRINCK

Van kleintyd af kon Nico Schamrel ’n storie lewe gee deur sy vertellings en skryfwerk. Nou, na baie somers en tien gepubliseerde boeke, bied hy talentvolle storievertellers en skrywers ’n platform waarop hulle ook hul passie kan uitleef.

Dié platform, Ns. Skrywershuis, is ’n webtuiste en boekwinkel waarvan die deure wyd oop is vir elkeen met ’n liefde vir Afrikaanse literatuur. Dit dien ook as ’n uitgewer met die bemarkingsleuse van “jou argitek vir jou publikasie”.

“Ons almal het ’n storie om te vertel, veral ons Suid-Afrikaners. En ons soek ’n uitlaatklep vir al ons stories. In ander lande besoek mense sielkundiges – hier in ons land skryf mense hul harte uit as ’n vorm van terapie,” sê Nico Schamrel, wat voorheen in die hotelbedryf was en deesdae ’n luukse lodge op ’n wildsplaas buite Uitenhage bestuur.

Virtuele koffiekroeg en ere-gallery

“Dit is hoekom ek Ns. Skrywershuis begin het – daar is só baie skrywers wat ’n platform soek waarop hulle hul boeke kan uitgee. Dit is ’n heel ander buite die boks-konsep, vars en kreatief. Daar is selfs ’n virtuele koffiekroeg waar lesers gedeeltes van hul boeke kan lees as bemarking van hul skryfwerk.

“Hoewel die platform nog jonk is, het ons al heelwat boeke gepubliseer en dit maak golwe in die bedryf. Daar is ook ’n ere-gallery vir mense wat help om onbekende skrywers se name uit te kry en só Afrikaans te bevorder. Johan Allers is die eerste eregas op die gallery.”

“Dit is moeilik om jou naam in die skrywersbedryf gevestig te kry. Daar is soveel goeie skrywers wat in die skaduwee sit van die groot name. Maar, Afrikaans is ons taal en ons moet dit lewendig hou.”

Nico sê daar is heelwat uitblinker skrywers op die Ns. Skrywershuis-platform en hy noem ’n paar name op soos dié van Bets Koen, Ernest Loth (digter), Karel Nel (’n afgetrede plaaswerker uit die Koue Bokkeveld) en Riaan Palmer wat ’n uitstekende komiese skrywer is en wie toekennings ontvang het vir sy debuutboek Die Heilige Koeie se Moe.

Ander skrywers wat lof verdien is die digter Willem Breyl en Marika du Toit van Heerden, ’n uitstekende storieverteller en ’n maatskaplike werker van beroep.

Buiten Ns. Skrywershuis, het Schamrel ’n paar jaar gelede saam met twee teksversorgers, Bets Koen en Ronél Dunn, ’n skrywersgroep begin onder die naam PENdit.za ter bevordering van die Afrikaanse verhaalkuns. Beide Bets en Ronél is ook puik wanneer ’n manuskrip verhaalontwikkeling nodig het en Bets doen ook bladuitleg.

Die trio, Nico, Bets en Ronél, tree eersdaags as beoordelaars op vir INK Skryfkompetisie, waarvan Karen Zoid ook ’n beoordelaar is.

Nico se eerste kortverhaalbundel, Engela, het in 2019 verskyn en bevat die kortverhaal By Mooirivier se Brug wat in 2019 ’n Croyez literêre benoeming ontvang het. In 2020 ontvang hy die Chris Barnard-prysbenoeming vir sy kortverhaal Kaggen wat opgeneem is in sy tweede kortverhaalbundel Prente in my Kop.

Skryfwerk om ander te help

Verlede jaar tydens die erge grendeltyd, het Nico ’n gebedeboek met skrywes van sestig bekendes sowel as skrywes deur Jan Alleman saamgestel met die titel My Gebed vir ’n Boer. Al die geld uit die verkope van die boek word geskenk ten bate van slagoffers van plaasaanvalle.

Nou is Nico besig met ’n nuwe projek wat hy in samewerking met die ATKV wil aanpak.

“Ek sal graag ’n skryfkompetisie wil reël vir skoliere. Ons moet by ons kinders begin en sorg dat hul passie vir die taal nie verlore raak nie,” se Nico.

Die weninskrywings sal in ’n kortverhaalbundel uitgegee word. Die opbrengste daarvan sal aangewend word om opvoedkundige leesprogramme by skole te ondersteun.

  • Vir meer inligting oor Ns. Skrywershuis se kompetisies, koffiekroeg, hoe om ’n boek gepubliseer te kry en vele ander raad met skryfwerk, loer gerus in by www.nskrywershuis.co.za of kontak Nico Schamrel op 079 070 6465.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article