Koorlede en koorleiers van alle Suid-Afrikaanse skole moet ’n knoop in die oor maak – Dinsdag, 28 Februarie is die sperdatum vir inskrywings vir vanjaar se ATKV-Applous-koorkompetisie.
ATKV-Applous, die oudste skoolkoorkompetisie in die land, word al vir 46 jaar aangebied. In 2022 het 186 kore ingeskryf en die beoordelaars het 12 542 leerders hoor sing!
Die dae toe bebrilde bloukouse die enigste koorlede was, is inderdaad iets van die verlede en die woelige tegno-generasie Z se konsentrasie word goed gefokus.
Wat ATKV-Applous so buitengewoon maak, is dat enige skoolkoor mag inskryf. Of daar nou 10 skoliere staan en saamsing en of daar 180 bulletjies is wat dreunskreeu en voete stamp, gaan dit hier oor die emosies wat deur sang gekommunikeer word.
Skoolkoorsang bring talle fasette byeen: spanwerk en dissipline, groepskommunikasie, ’n groeiende kennis van en genot in musiek, en spesiale optredes en toere. Die slyp van koorlede (en koordirigente) verbeter interkulturele kommunikasie en ontwikkel koorsangers se selfvertroue.
Die ATKV vereis in verskeie afdelings die uitvoering van werke deur ’n Suid-Afrikaanse komponis, wat sodoende die repertorium van plaaslike koormusiek vergroot.
Kore wat inskryf kan die hoogste gehalte en ervaring van beoordelaars – dikwels internasionale kenners – verwag. Die streekskompetisies en finaal is ’n smorgasbord van kompetisie, goeie organisasie, uitbundige emosies en perfeksionisme.
Daar is verskillende kategorieë, en of jou skoolkoor nou bloedjonk, piepklein of van net een ouderdom of taal is, of net uit seuns of dogters bestaan, is daar ’n plek vir hulle by ATKV-Applous met die belofte van baie pret en goeie bemarking vir die skool.
- Vir navrae kontak Bessie Keun by 012 804 5396, Bessie@applous.co.za of Braam de Kock by 011 919 9012, Braamd@atkv.org.za.
– UITGEREIK: ATKV



