NÁ 38 jaar en ses maande by die Laerskool Innes het die skoolhoof, Koos Brits (63), afgetree en sy kantoor verruil vir ’n plek sonder klokke, roos-ters, vergaderings en rooi penne.

“Ek het jonk en mooi hier begin, nou is ek nie meer jonk nie,” merk Brits, wat sy onderwysloopbaan by dié skool op Kariega begin het, skertsend op.

“Ek was van die min gelukkiges in die onderwys wat al my bevorderings in dieselfde skool gekry het.”

koos

Laerskool Innes se skoolhoof Koos Brits het einde Junie afgetree. Foto:HEILIE COMBRINCK

Brits sê sy aanvanklike plan was om net vir twee jaar by Innes skool te hou en daarna wou hy terug Karoo toe, na sy geboortedorp Cradock.

“Maar toe raak ek lief vir die skool en die dorp se mense en toe bly ek. Hierdie gemeenskap se rykdom is nie geld nie, hulle rykdom is hulle kinders.”

Brits het as jong onderwyser met Piet Geyer as sy skoolhoof by Innes begin. Hy is opgevolg deur Lood Prins, Lesley Stander en na hom het Brits dié pos beklee.

Hy sê ’n ware onderwyser is iemand wat passievol is oor onderwys en ’n positiewe verskil in leerders se lewens maak.

“Die een wat bevordering kry, is nie die een wat bloot sy of haar werk doen nie, maar die een wat méér doen, wat daardie ekstra myl stap.”

Wat hoogtepunte in sy loopbaan betref, sê Brits hy is trots dat hy die Protea krieketspeler Nantie Hayward as laerskoolkind kon afrig en dat hy ’n prominente rol vervul het in die oprigting van die skool se sport- en kultuursentrum.

Brits het einde Junie afgetree. Sy vrou Linda, wat by die Hoërskool Brandwag skoolgehou het, het twee jaar gelede afgetree.

“Dit is nou ’n nuwe era in ons lewens. Ons hou daarvan om plekke te verken. Oktober wil ek gaan visvang by Henties en dan is daar natuurlik mos maar die bucket list goed soos Namakwaland, Kgalagadi en sulke mooi plekke.”

Brits sê hy is ook oor halfpad met ’n boek waarin van sy saalopening-boodskappies saamgevat gaan word. “Ek het alles gehou en die bestes uitgesoek hiervoor.”

Hy beskou homself as iemand met tien duime, maar tog gaan hy nou sy hand begin waag aan houtdraaiwerk met Leroy Smith van Jeffreysbaai as leermeester van hierdie nuwe tydver-dryf.

Laerskool Innes se adjunkhoof, Alma van der Merwe, neem van volgende termyn waar as hoof.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article