DINK gou vinnig wat ’n mens in 30 jaar kan verrig. Dis ’n leeftyd, langer as wat sommige mense wil bedink.
Dis hoe lank gelede Isabella en Gerrie Bezuidenhout die deure van Huis Minette oopgemaak het.
Huis Minette is ’n nie-winsgewende organisasie in Kariega wat behuising en versorging aan fisies- en verstandelik gestremde volwassenes voorsien. Hoewel dit amptelik in Augustus 1994 geregistreer is, het sy deure vroeër daardie jaar op 1 April oopgemaak.
Die hele groep – inwoners en versorgers – het op 26 April vanjaar op die bussie geklim en die dag langs die see in Willows gaan geniet om dié mylpaal te vier.
Só het dit begin
Gerrie, toe ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, is in 1988 van Johannesburg na Gqeberha verplaas.
Hy en sy vrou Isabella en hul vier kinders het in Sunridgepark gewoon terwyl die oudste drie kinders – al drie verstandelik gestremd – by Merryvale skoolgegaan het en die jongste een by die Laerskool Sunridge was.
Dit is toe die tyd kom vir hulle oudste kind en enigste dogter, Sonja, om die skool te verlaat dat alles verander het. Waarheen gaan sy nou?
“Ons kon toe nie plek kry vir haar nie. Ons het oral gesoek, in Hermanus, Bloemfontein, Oudshoorn, Kimberley. En hulle sê net die waglys is te lank. Toe besluit ons om die Amerikaanse model te probeer – koop ’n huis in ’n gemeenskap, laat die kinders daar bly en kyk of hulle kan integreer met die gemeenskap. En dit het toe wonderlik gewerk,” verduidelik Isabella.
Penfordrylaan 50 in Kariega was die antwoord op baie gebede. En so ook was Minette van Loggenberg van Uitenhage Mental Health.
Toe Huis Minette se deure oopmaak, was daar al 17 inwoners – 14 na hulle verwys deur Van Loggenberg en Gerrie en Isabella se oudste drie kinders.
Ses van die oorspronklike inwoners is vandag steeds by Huis Minette.
In 1996 het hulle ’n huis in Gibsonstraat, die een agter Huis Minette, ook gekoop om uit te brei. Hulle het toe later by die boonste huis, die een in Penfordrylaan, aangebou om nóg spasie te bekom.
En daar is steeds nie genoeg plek om die aanvraag te hanteer nie.
“Ek kry elke liewe week omtrent vier of vyf aansoeke van mense wat wil plek hê. En ons is oorvol,” vertel Gerrie.
“Hier is 29 van hulle, en elkeen het sy eie storie. Jy moet elkeen verskillend hanteer,” voeg Isabella by. “Daar is so ‘n groot behoefte. Ons is vol, vol, vol. En my hartjie is net so klein. Hoe wys jy hulle weg?”
Huis Minette het nou 29 inwoners, 10 voltydse personeel, ’n groentetuin, hoenders wat skrik vir niks en ’n swembad.
Daar was ’n paar opdraande ook
Mental Health Uitenhage en Huis Minette het saamgewerk aan die begin, maar dit het ook net ’n paar maande gehou.
’n Verskil van opinie oor die stukkende wasmasjien op die boonste vloer was die breekpunt.
Toe is dit weer net Gerrie en Isabella en Huis Minette se personeel.
En Gerrie en Isabella het toe nog albei voltyds gewerk en in Sunridgepark gewoon, terwyl hulle kinders nog op skool was.
Toe sukkel hulle met mense wat steel by Huis Minette en hulle besluit om in die woonstel daar te gaan bly tot alles weer op dreef was.
“Die een jaar wat dit moes wees het toe 12 jaar geword,” lag Isabella.
Maar die seëninge het beslis daarvoor
opgemaak
“Dertig jaar. Die Here was vir ons goed. Ek sê vir jou, dis net genade,” sê Isabella.
Die vraag moes gevra word: As hulle hele lewe in Gqeberha was, hoekom het hulle Huis Minette in Kariega gevestig?
“Hier is ’n werkswinkel, Drostdy-Werkswinkel. Volkswagen het destyds vir die werkswinkel baie werk gegee, bakwerk, houtwerk, goed wat verpak moes word. Van die kinders hier kan werk en hulle kon toe werkswinkel toe gaan gedurende die dag. Hier is vandag nog tien kinders wat soontoe gaan. Dis hoekom ons dit hier gekoop het,” vertel Isabella.
In 1994 toe hulle die huis gekoop het, gee die bank hulle net R150 000 en die prys wat hulle moes betaal was R185 000. Wat maak jy? Die oplossing val uit die bloute in hulle skoot.
Isabella het in Johannesburg vir ’n vervoermaatskappy gewerk, een wat toe nie ’n tak in die Oos-Kaap gehad het nie. Sy het grappensgewys gevra of sy nie ’n tak hier moet kom oopmaak nie.
’n Grap was dit toe nie, want haar baas sê toe ja. In 1994, toe die prokureurs nog die laaste geld vir die koop van Penfordrylaan 50 soek, kom einde van die maand en Isabella bank toe.
“Ek bel toe my baas in Johannesburg want daar is te veel geld in my rekening. Hulle het ’n fout gemaak. Hy sê toe die geld in my rekening is my profit- sharing, die geld wat ek kry na die oopmaak van die tak in die Oos-Kaap en die wins wat dit gelewer het. Hoeveel is dit? R35 000.”
In 1996, toe hulle daaraan begin dink om Huis Minette uit te brei, het hulle sommer net eendag die kinders in die kar gelaai en om die draai gery na die huis in Gibsonstraat om vir die eienaar te vra om vir hulle eerste koopreg te gee as hy ooit sy huis wil verkoop.
“Die man sê hy en sy seun was toe net daar om die huis reg te trek, hulle wou hom in die mark sit,” vertel Isabella. “Dis net die Here se werk.”
Die baas in Johannesburg is toe weer onwetend die beginpunt van ’n seëning vir hulle. Hy stuur Gerrie en Isabella na sy wildplaas in die Laeveld vir ’n welverdiende twee week-lange vakansie.
Gerrie was heel opgewonde. Vir die eerste drie dae . . .
“Die derde dag besluit hy hy het toe genoeg bokke getel en hy wou huistoe gaan,” lag Isabella.
Sy vra toe of hulle nie Sun City toe kon gaan nie, want hulle was nog nooit daar nie.
Hier het hulle ’n meevalletjie gekry. Een wat betaal het vir die huis in Gibsonstraat, die ingeboude kaste wat die huis nodig gehad het en ’n paar opgraderings aan die boonste huis.
Die ander seëninge beteken net so baie vir hulle: Die partytjie wat die NG Kerk Noord-gemeente elke maand hou vir die Huis Minette inwoners wat daardie maand verjaar, die verassings van Round Table en Lions Club; die Laerskool Handhaaf wat hulle skoolbus vir Huis Minette geleen het vir die rit Willows toe en elke skenking wat hulle al oor die jare ontvang het.
Nóg 30 jaar, hier kom ons
Vir Gerrie en Isabella, hul drie oudste kinders Sonja, Jaco en Kosie, en jongste, Tinus wat tans in Amerika werk, was die stigting van Huis Minette die begin van ’n goue era.
“Dit was alles ’n plan wat die Here met ons gehad het. Hy het gesê, moenie worry nie, Ek sal sorg. En die kinders het nog elke dag lekker geëet; hulle bly lekker. Dertig jaar het Hy voorsien. Hy gaan nog voorsien.”





