DESPATCH se o.15 A-krieketspan het in sy twee wedstryde teen Grey se o.15 B-span een gewen en een verloor.
Despatch was in die Vrydag-wedstryd op sy tuisveld skitterend op dreef toe hy die wedstryd oor 20 boulbeurte maklik met 67 lopies gewen het.
Despatch het eerste gaan kolf en ’n skaflike 129/2 aangeteken nadat Egan Julyan (52*), Keagan Wium (31) en Tiaan Marshall (21*) die telbord aan die rol gehou het.
Julyan het 42 balle trotseer, terwyl Marshall sy onoorwonne 21 lopies vanaf 17 balle geslaan het.
Wium het 54 balle trotseer vir sy 31.
Despatch se boulers het ook presteer deur Grey in 12.5 boulbeurte vir net 62 lopies uit te boul.
Julyan was weer die groot ster deur drie paaltjies vir net drie lopies plat te trek.
Corné Pieterse (3/14) en Marshall (2/15) was die ander boulers wat die lewe vir Grey moeilik gemaak het.
Die volgende dag het die spanne mekaar op Grey se veld gepak – dié keer oor 50 boulbeurte.
Hier het Grey die bordjies verhang deur met 16 lopies te wen.
Grey het ’n stewige 243 lopies aangeteken met Connor (68), Oliver (66*) en Jessy (23) die beste kolwers.
Vir Despatch het Pieterse 4/59 platgetrek, Matthew Struwig 2/30 en Wium 2/55.
Despatch het met 227 lopies geantwoord wat weereens ’n goeie vertoning was.
Marshall (63), Rynhardt Boshoff (43) en Wium (34) was die beste kolwers.
Despatch se o.15’s het gewys die toekoms van krieket by die skool is rooskleurig.




