Rudi Jonker, Bergsig Skool se nuwe hoof. Foto: HEILIE COMBRINCK

Om vreugde te put uit jou beroep, veral wanneer dit moontlik is om ’n ander van hulp te kan wees en ’n positewe verskil in die samelewing te kan maak, is wat die nuwe hoof van Bergsig Skool op Kariega passievol maak oor onderwys.

Rudi Jonker het op 1 Junie die leisels as hoof van dié LSN-skool met sy 633 leerders by Deon Wolmarans, wat einde September 2020 na meer as 40 jaar by die skool afgetree het, oorgeneem. Jonker is ’n gegradueerde B.Com Rekeningkundige en was voor hy onderwys as loopbaan gekies het, in die korporatiewe wêreld.

Toegerus om eie inkomste te verdien

“Die hoofdoel van onderwys is om kinders toe te rus met wat hulle nodig het om hul plek as grootmense in die samelewing vol te kan staan,” sê Jon-ker en dan skop sy finansiële kundig-heid in: “Hulle moet uiteindelik in ’n gemeenskap van nut wees met die beroep wat hulle beoefen en finansieël onafhanklik leef én bydra tot ons land se ekonomie.

“Daarom is dit belangrik dat ons by Bergsig ons leerders ook leer om entrepreneurs te wees.”

Jonker is van mening dat daar in Suid-Afrika te min skole is soos Bergsig wat voorsien in die behoeftes van kinders wat beter aangelê is om praktiese vaardighede baas te raak.

“Ek wens daar word in die toekoms meer voorsiening gemaak hiervoor. Die vakrigtings wat by Bergsig en ander LSN-skole aangebied word, is van kardinale belang om die tekort aan vakmanskap in ons land te help verklein. Ek wil die resultaat van ons onderwys sien. Ek wil hoor wat word van ons kinders.” “

Bergsig is deur die jare bekend vir hul opedae waartydens die publiek van die items kan koop wat in die werkswinkels gemaak word.

Hoewel die COVID-19 pandemie aanpassings verg vir sulke dae, is Jonker van plan om dié soort bemarking van die skool nog verder uit te brei.

“Bergsig Skool beskik oor goeie en gedissiplineerde strukture met fenominale onderwysers. Hier is nie ‘n plafon nie, ons wil hoër gaan en die skool net nog meer suksesvol maak. Ons nooi plaaslike besighede uit om te belê in ons skool en leerders se toekoms,” sê Jonker.

Besighede se rol in onderwys

Samewerking tussen die skool, plaaslike besighede en gemeenskaps-instansies is baie belangrik vir Jonker, aangesien dit volgens hom ’n spanpoging verg om ’n breë spektrum van vaardighede by ’n leerder te ontwikkel sodat hy of sy eendag as onafhanklike, verantwoordelike, en selfonderhoudende grootmens kan funksioneer in ’n globale gemeenskap.

Dié visie is in pas met die skool se leuse van “Wys is die mens wat vorentoe kyk”.

Jonker was voor sy aanstelling by Bergsig die skoolhoof van Junior Sekondêre Skool Coldstreain die Tsitsikamma. Hy is ’n gebore en getoë Despatcher en sê dit voel of hy nou teruggekom het huis toe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article