Mopp Arends, Hannes Jacobs en Cariston Adams. foto: HEILIE COMBRINCK


DIE krag van rolmodelle in plaaslike liggaamsbou-kringe, het al verskeie Suid-Afrikaanse kampioene in dié sport opgelewer.

Een van dié rolmodelle, Mopp Arends (69), wat ’n ellelang lys kompetisie-titels ingepalm het, het sy uittrede aangekondig.

“Al verskil is dat ek nie meer aan kompetisies gaan deelneem nie. Ek sal steeds bly oefen, maar gaan veral my aandag fokus om jonges te help met oefeninge en hul voorbereidings vir kompetisies,” sê Arends, wat op die ouderdom van 38 begin het met liggaamsbou.

Hy het eers twintig jaar later, met die hulp van sy rolmodel “Oom” Hannes Jacobs, aan sy eerste liggaamsbou-kompetisie deelgeneem.

“Toe ek sien hóé goed oom Oom Hannes lyk, het ek besluit ek wil ook eendag so lyk en het begin om by hom te oefen,” sê Arends.

Die res was ’n suksesverhaal, Arends het aan 10 Suid-Afrikaanse liggaamsbou-kampioenskappe deelgeneem waarvan hy drie keer as kampioen bekroon is, drie tweede plekke behaal het, ’n derde plek en in die res was hy onder die top ses deelnemers.

Hy was ook 10 keer die OP-liggaamsbou-kampioen in sy afdeling en twee keer die Friendly City kampioen.

In 2015 is hy as lid van die SA-span na Barcelona in Spanje om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem waar hy ’n tweede plek behaal het. Hy is vanjaar wéér vir die SA-span gekies om in Frankryk aan die wêreldkampioenskappe te gaan deelneem, maar het dit van die hand gewys omdat hy uitgetree het.

Jacobs (77), wat steeds afrig, sê, “Liggaamsbou is ’n gesonde sport vir liggaam en gees. Dit gaan oor dissipline, selfrespek en om ’n ander te respekteer. Ek bly voor die kliniek, maar dit was nog nooit vir my nodig om soontoe te gaan nie.”

“In my tyd was daar nie vir ons groot kompetisies nie, ook nie Energade en die goed wat hulle nou drink nie.

“Ons het maar rosyntjiewater gedrink. Maar wat my hart blymaak, is om te sien dat ek Mopp kon help, en dat hy nou weer so baie jonges in die sport aanmoedig,” sê Jacobs.

Cariston Adams, wat by Arends oefen, is vir die Suid-Afrikaanse liggaamsbou-span gekies wat onlangs in Toulouse, Frankryk aan die wêreld-kampioenskappe deelgeneem het.

“Oom Mopp is ’n legend. Hy was al so baie keer ’n kampioen, maar hy bly nederig en is passievol om ons jonges te help om ook te presteer.

“Ek oefen die afgelope twee jaar by Oom Mopp, die sport het my baie geleer oor dissipline en respek, vir ’n mens se liggaam en ook vir ander mense.”

Jong kampioene

Arends was ook die rolmodel vir twee plaaslike liggaamsbouers wat op internasionale vlak presteer het, Nicky Human (2014 – derde in Italië en 2015 – sesde in Barcelona) en Deenan Africa (2016 – derde in Bordeaux, Frankryk).

Liggaamsbouers wat op Suid-Afrikaanse vlak presteer het onder Arends se leiding sluit in Ruvern Louw, Celeste Bernado, Avy Mazeena, Cariston Adams, Nathan Meintjies, Micaylin Steyn en Shireen McDonald.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article