Petro Badenhorst sit hier by een van die pampoene wat ingeskryf is vir verlede jaar se Langstingels-pampoenkompetisie waar die wenpampoen die skaal tot by 116kg gedruk het. Foto:VERSKAF

Die uitdaging het begin en die sade lê reg vir diegene wat hul hand wil waag om te sien wie gaan die swaarste pampoen groei vir Kirkwood se Langstingels-pampoenkompetisie.

Ferdi Smith, voorsitter van die Langstingels-studiegroep, sê die saad word op 9 Oktober aan deelnemers gegee en moet dan so gou moontlik geplant word.

“Dit is nou die tyd om te plant. Nadat die saad geplant is, duur dit ongeveer vyf maande voordat die reuse Giant Atlantic-pampoene reg is om gepluk te word.

Die kompetisie gaan uit-en-uit oor wie die swaarste pampoen inweeg.

“Daar is geen kategorieë nie, maar wel ’n paar verrassingspryse,” sê Smith.

In 2019 was Jacques Ehlers die wenner met sy reuse pampoen wat die skaal op 116kg laat kreun het. Dié gewig is ’n merkbare verbetering op die 46kg wat die wenpampoen in 2018 – die heel eerste Langstingels-pampoenkompetisie – geweeg het.

Die inweegdatum vir vanjaar se derde Langstingels-pampoenkompetisie is 12 Maart 2021, waarna die wenner aangekondig sal word.

Smith sê die doel van die kompetisie is bloot vir ’n lekker samehorigheidsgevoel en die opwinding om te sien hoe groot die pampoene kan groei.

“Elkeen kan na die inweeg met sy of haar pampoen doen wat hulle wil. Maar ons wil vanjaar begin met ’n projek om die pampoene vir liefdadigheid te skenk,” sê Smith.

Op ’n vraag aan Smith oor wat dink hy sou Aspoestertjie sê oor die reuse pampoene wat uit die Sondagsriviervallei kom, het hy geantwoord: “Sy sou gesê het, dit is groter as Patensie se pampoene!”

  • Deelname is oop vir enigeen wat groen vingers het of die uitdaging aanvaar om ‘n Giant Atlantic tot volle wasdom te laat groei. Om saad op 9 Oktober te kry en die plant- proses te begin, WhatsApp Henri Vermaak by 084 601 3977 of stuur ‘n epos na langstingels@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article