Desiree Steyn (links), skoolhoof van Fountain of Life Christian School is deur Solidariteit se Helpende Hand Uitenhage aangewys as die Vrou van die Jaar (2021). Hier is sy saam met Marlene Basson (Helpende Hand streeksorganiseerder) en Anneli Kotze wat die wenner genomineer het.


Vroue wat tydens die pandemie-inperking hul gesinne, huishoudings én beroepe met sukses in stand gehou het is onlangs deur Solidariteit Helpende Hand se Uitenhage-tak vereer.

Dié tak het einde 2021 ‘n Vrou van die Jaar-kompetisie geloods en die gemeenskap genooi om uitmuntende vroue te nomineer vir hul rol in die samelewing, beroepswêreld en tuis tydens die COVID-19 pandemie se inperkings.

“Die doel van die kompetisie is om dié merkwaardige vroue soos in Spreuke 31 beskryf is, te vereer,” sê Marlene Basson, Solidariteit Helpende Hand se streeksbestuurder Oos-Kaap en Kwa-Zulu Natal Suid.

Anneli Kotze het Desiree Steyn van Fountains of Life Christian School genomineer en gesê, “Desiree het ten spyte van talle uitdagings, veral tydens COVID-19, merkwaardig en met volgehoue energie die skool bedryf. Sy is vir elke leerder, ouer en onderwyser baie spesiaal.”

Fountain of Life Christian School het onlangs hul 25ste bestaansjaar gevier en tydens dié geleentheid is Desiree gekroon as Helpende Hand Uitenhage se Vrou van die Jaar.

“Dit is wonderlik as die gemeenskap hande vat met mekaar om nie net in hul eie kringe nie, maar ook in die breër gemeenskap ‘n verskil in mense se lewens te maak,” sê Basson

“Die Helpende Hand se Ons Winkel is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Hier ontvang ons skenkings van tweedehandse goedere, verkoop dit teen baie billike pryse en wend die fondse aan vir verdienstelike projekte in die gemeenskap.”

Die Vrou van die Jaar het ‘n Perfect Image Hair & Beauty Salon-geskenkbewys ter waarde van R 1 000 gekry. Dié salon is by Kanonstraat 67 op Kariega. Die nomineerder van die Vrou van die Jaar, het ‘n Ons Winkel-geskenkbewys ter waarde van R300 gekry.

Vir meer inligting oor Helpende Hand se projekte bel 083 501 3166 en vir meer inligting oor Ons Winkel bel 081 798 0190 of stuur ‘n e-pos na marlene@helpendehand.co.za

– UITGEREIK: HELPENDE HAND

Die plaaslike besigheid Perfect Image Hair & Beauty Salon was die hoofborg van Solidariteit Helpende Hand Uitenhage se Vrou van die Jaar-kompetisie. Hier is (van links) Leandi, Bianca, Leana en Lizaan van dié salon. Foto’s: VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article