Oor drie maande en ‘n paar dae is dit Kerstyd en die Buddy Bear liefdadigheidsorganisasie op Despatch is reeds kliphard besig om 1 000 Kerskouse te brei wat gevul moet word met lekkers om dit op 24 Desember aan kinders te gee.
“Aan wol het ons nie ‘n tekort nie, ons het ‘n goeie finansiële skenking van PPC gekry en gaan by Estelle’s rooi en groen wol koop. Maar daardie kouse moet lekkers inkry en dit is waar ons die publiek en plaaslike besighede se hulp nodig het,” sê Dawid van der Merwe, Buddy Bear Oos-Kaap se area-organiseerder.
“Ons gaan ook in elke kousie ‘n bemoedigende boodskap en Buddy Bear inligting as bewusmaking sit.”
Buddy Bear maak gebruik van vrywilligers en skenkers om troosbeertjies te brei wat in samewerking met die polisie aan instansies versprei word wat met kinders werk wat trauma ervaar weens gewelddadige en/of seksuele mishandeling. Hulle gee ook beertjies aan kinders wat uit gebroke huise kom.
“Daar is iets aan ‘n troosbeertjie die kinders hou dit vas en voel dan nie alleen nie. In baie gevalle is dit die enigste liefde wat daardie getraumatiseerde kinders kry, ironies van ‘n lewelose sagte beertjie.
“Daar word gepraat van ‘stilbly-kinders’ want hulle praat nie, maar baie keer wanneer hulle ‘n troosbeertjie kry, begin hulle praat. Daarom is daar op elke beertjie ‘n hartjie waarop staan Survivor. Dit is om uit te beeld dat so ‘n kind nie meer ‘n slagoffer is nie want hulle het gepraat en is nou oorwinnaars.
“Die vraag na dié troosbeertjies hou nie op nie. Ongelukkig leef ons in ‘n samelewing waar hierdie misdade teenoor kinders nie stop nie,” sê Van der Merwe.
- Skenkings van lekkers (toegedraaide lekkers) om die Kerskouse te vul kan by Jolandie Nortier by NGK Eendrag se kerkkantoor afgegee word of by die Despatch Rugbyklub of Despatch polisiestasie. Om betrokke te raak by Buddy Bear kontak Dawid van der Merwe by 083 397 6002.





