Wernich van Rensburg saam met sy afrigter, Karel Gerber (links) en HTS Daniel Pienaar se atletiekorganiseerder Kobus Vosloo.

Foto: Verskaf

Wernich van Rensburg, hoofseun van HTS Daniel Pienaar op Uitenhage, het nog ‘n nasionale titel agter sy naam gevoeg toe hy onder die vaandel van die Oostelike Provinsie Atletiekunie, die 400m hekkiestitel vir mans o.20 gewen het by die ASA Junior-atletiekkampioenskappe wat in Potchefstroom gehou is.

Sy wentyd van 51.70s wat ‘n persoonlike beste is, het ook aan hom ‘n kwalifiserende tyd besorg vir die IAAF Junior Wêreld-atletiekkampioenskappe wat Augustus vanjaar in Cali, Colombia, Suid-Amerika gehou gaan word.

Dit is Wernich se derde nasionale titel vir 2022. Hy het in Maart 2022 by die Suid-Afrikaanse Hoërskole Kampioenskappe in Germiston goud gewen in die 400m hekkies asook in die 400m naelloop met ‘n persoonlike beste van 47.66s.

Die verskil tussen die ASA Junior-atletiekkampioenskappe en die SA Hoërskole Kampioenskappe is dat by laasgenoemde slegs atlete wat nog in die skool is en 18/19 jaar is, mag deelneem, terwyl atlete wat alreeds uit die skool is en steeds 18/19 jaar is by die ASA-byeenkoms mag deelneem. Wernich is dus reeds in sy eerste jaar die ASA-kampioen, terwyl hy nog volgende jaar onder dieselfde kategorie kan deelneem.

Wernich is ook in die Oostelike Provinsie Senior Atletiekspan ingesluit wat vanaf 21-23 April by Groenpuntstadion in Kaapstad aan die ASA Senior Atletiekkampioenskappe deelgeneem het.

Wernich is ‘n klublid van die Nelson Mandela Universiteit Atletiekklub wat bekendstaan as die Madibaz. Wernich beoog om nadat hy gematrikuleer het elektriese Ingenieurswese te studeer.

Daniel Pienaar wil van die geleentheid gebruik maak om vir Wernich, asook sy ouers en afrigter geluk te wens, asook voorspoed toe te wens vir sy voorbereiding.

UITGEREIK: HTS DANIEL PIENAAR

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article