HOE unieker ’n dak hoe meer instandhouding het dit nodig. Dit is ook waar van die unieke saalvormige dak van VEK Penford op die hoek van Penford- en Inggslaan op Uitenhage.
Dié kerk is in die vroeë 1970s gebou en daar word na die vreemde dakvorm verwys as ’n “hyperbolic paraboloid” dakstruktuur.
Volgens pastoor Mario Kotze het navorsing getoon dat dié dak elke vyf jaar opgeknap moet word.
Daarom het die gemeente begin met projekte vir fondsinsamelings vir die herstel van VEK Penford-kerk se saaldak.
“Verskeie voorstelle is oorweeg vir die opknapping en die kerkraad het besluit om die dak volledig te bedek met allooi-sink,” sê Pastoor Kotze.
“Dit sal die dak ’n nuwe vooraansig gee en die verwagte instandhouding sal minder wees.”
Om voldoende geld in te samel om die onkostes van die dak te dek sowel as om die verandering te vier, word ’n Nu Roof Gospelaand Saterdag om 19:00 by die kerk aangebied.
Bekende sangers soos Chanél Wink, Jacques Kilian, Barneace Slabbert, Kobus Alberts en Karina Pattinson sal optree.
Kaartjies is R30 per persoon en sal by die deure beskikbaar wees.
Verversings sal vanaf 18:00 te koop aangebied word.
Vir meer inligting oor die Nu Roof gospelaand bel Susan Botha by 082 378 8155.
– HEILIE COMBRINCK





