DIE Despatch-posduifklub het ’n baie suksesvolle 2020 wedvlugseisoen agter die rug. Lede van die klub het onder andere vyf Unie-wedvlugte gewen.

’n Wedvlugseisoen bestaan gewoonlik uit 19 wedvlugte, maar weens die COVID-19-inperkings kon daar vanjaar net 15 wedvlugte geskied.

Boertjie Nell is vir die 14de agtereenvolgende jaar as die wedvlugkampioen van Despatch-posduifklub aangewys. Sy duiwe het elf wedvlugte gewen.

Op Unie-vlak met ’n ledetal van sowat 200 lede, het Nell algeheel derde op die puntelys ge-ëindig.

Legendariese duiweboer van Despatch

Nell het as vierjarige seuntjie sy eerste wedvlugduiwe gekry en was sedert toe onlosmaaklik deel van dié duiwesport. In 1966 het hy in vennootskap met Piet Swanepoel, ernstig aan duiwewedvlugte begin deelneem. Van die duiwe in sy hok se stambome dateer terug na 1966 en dié duiwe is vandag onder die duiweboere bekend as die Boernelle.

In die tweede posisie in die klub is dit Hennie le Roux gevolg deur Shane Bailey (3de) en die De Lange-familie (4de).

In die 17-duifkompetisie is dit Cornell en Johan Wait wat die kampioene is gevolg deur André Beauzec & Vennote.

Duiweveiling

Die Despatch-posduifklub hou Saterdag, 28 November ’n duiweveiling met 32 duiwe wat opgeveil gaan word. Dié duiwe is deur Barney Deetlefs van Dinokeng-hokke aangestuur om verkoop te word.

  • Die duiwe kan besigtig word vanaf 11:00 en die veiling begin 13:00. Vir meer inligting bel Boertjie Nell by 083 709 2067 of Hennie le Roux by 076 140 9347.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article