Jong gholfspelers van Nelson Mandelabaai word hier touwys gemaak deur professionele spelers wat aan die Sunshine Senior Tour: Nelson Mandela Bay Classic deel geneem het wat op die Humewood-gholfbaan in Gqeberha aangebied was.

Foto: Michael Sheehan

Die Sunshine Senior Golf Tour: Nelson Mandela Bay Classic is onlangs by die Humewood gholfbaan aangebied.

Dit was die vierde keer dat dié toernooi in die Baai aangebied was.

Verskeie van Suid-Afrika se senior professionele gholfspelers het weereens vanjaar hulle slag op die pragtige en dikwels uitdagende baan kom wys.

Gedurende die toernooi het die spelers twee middae tyd spandeer om jong opkomende spelers so bietjie touwys te maak.

“Dié geleentheid word gesien as ’n kans om aan die Baai se gholf-gemeenskap iets te kan teruggee,” het Frans de Kock, die bestuurder van die Oos-Kaap Provinsie se Suid-Afrikaanse Gholf Ontwikkelingsraad (Eastern Province’s SA Golf Development Board (SAGDB) gesê.

“Dit is deel van die raad se doel om aan die jong gretige spelers soveel moontlik geleentheid te gee om in die spel te ontwikkel.”

“Ons het vanjaar spelers uit skole in gebiede soos Zwide, Kariega, Kuyga, Motherwell en Varsvlei gekies om aan die geleentheid te kon deelneem.”

“Dit is nogal ’n uitdaging om al die kinders by die gholfbaan te kry want daar is heelwat koste aan verbonde. So vir eers stel ons hulle aan die spel bekend op die onderskeie skole se rugbyvelde.”

“Die wat dan goeie vordering toon, neem ons na ’n dryfbaan en sodra hulle daardie toets geslaag het word hulle aan die gholfbaan bekendgestel.”

Hy het ook gesê dat ’n geleentheid soos dié veral vir kinders wat nie aan skoolsport soos rugby, sokker of hokkie deelneem nie, ’n aansporing is om wel ’n sportsoort te kan beoefen.

“Omdat gholf ’n individuele spel is, neem dit nogal tyd en moeite om die kinders daarop ingestel te kry,” sê hy.

“Maar hoe meer jy insit hoe groter is die beloning.”

Die feit dat Johndre Ludick en Devon Valentine die Oos-Kaap se twee voorste junior gholfspelers by die GolfRSA span ingesluit is, het ook as inspirasie vir die jongklomp gedien, het De Kock gesê.

“Hulle het albei uit die sisteem gekom; ek kan nog onthou hoe ek Devon gehelp het om ’n beurs by Daniel Pienaar Tegniese Skool in Kariega te kon kry. Ek het hom ook gehelp met afrigting by die Uitenhage-gholfklub.

“Later het die Hoërskool Grey ook vir hom ’n beurs aangebied. Hy het onlangs sy titel by die Zimbabwe Junior Ope verdedig, wat hom die geleentheid gegee het om aan die Sunshine Tour te kon deelneem.”

De Kock het ook gesê dat akademie steeds eerste moet kom.

“Ons moes onlangs ’n speler vir eers uit die gholf-program uitlaat totdat sy skoolpunte verbeter het. Dit is belangrik dat die kinders dit verstaan”, het hy gesê.

“Ek moet hulde bring aan die SAGDB se bydrae, want sonder hulle ondersteuning sou die gholfklinieke nie kon plaasvind nie.”

Die Sunshine Senior Golf Tour: Nelson Mandela Bay is deur Ryan Dreyer gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article