“AL is ons bewegings ingeperk, is my tuin ’n plek van uitkom, ontvlugting en vrede.”
So sê Maro Swanepoel van Despatch, wat nege maande gelede besluit het om haar voortuin se grasperk en blombeddings om te spit en die stuk grond in ’n selfonderhoudende groentetuin om te tower. Nooit sou sy kon dink dat die groentetuin se benuttting só vinnig ’n essensiële rol vir hulle as gesin sou vervul nie.
Ons trek nou by dag 14 van Suid-Afrika se nasionale Covid19-inperking en vir die Swanepoels is eet in hierdie tyd ’n gesonde kosavontuur.
“Ons eet lekker gepekelde uie, vars paprika, soetrissies in roerbraai, vars peppadews in slaaie. En basiliepesto … dit is waar my liefde lê, om te preserveer,” sê Maro.
“Ons het jare gelede patatranke geplant, daai ranke groei welig voort tussen die groentekaste. Nou en dan grawe ek ’n patat of twee uit. My tamaties sal oor so ’n week of wat reg wees vir pluk.
“Natuulik is daar ook arms vol vars kruie. O ja, en daar groei weer ’n moewiese mooi murgpampoen wat ek dié week gaan pluk om op die rooster met olyfolie te braai terwyl Pappa (haar man Riaan) sy vleis braai.”



Buiten die gesondheid uit die Swanepoels se grond uit, is die tuinwerk ook goed vir die gees én sonlig se vitamien D is veral nou nodig. Die tuin bied Maro ook vir bene rek en oefening.
“Ek het so sirkelroete rondom die huis wat ek draf. Die roete gaan deur die agtertuin, waar die vrugtebome en groot avokadoboom is en natuurlik deur die groentetuin. Wanneer ek tussendeur die plante draf, verbeel ek my ek is in die veld … wat ek in hierdie dae baie mis.”
Kort voor die inperking het Maro haar laaste botterskorsies geoes en heelwat peppadews en verskillende chillies ingelê.
“Dit is spesiaal ingelê vir gebruik later in die jaar wanneer dit jagseisoen is en Riaan verskillende worse begin stop.”
Hoewel Maro se groentetuin ’n lushof van heilsaamheid op hul erf is, sê sy sy sou beslis beter aan die uitleg beplan het indien sy dit nou vir die eerste keer sou uitgelê het.
“Ek sou heel eerste pale geplant het om ’n skadunet te span. Ons son is baie warm en die plante kry swaar onder die fel Afrika-son. Ek sou ook na meer raad geluister het.”
‘n Groentetuin is ’n immer-veranderende stuk grond met sy eie biodiversiteit wat gesond gehou moet word, beklemtoon Maro
“Daarom wil ek beslis meer blomplante plant wat die bestuiwers en insekpredatore lok. Ek wens ek kon spog met voëls in my tuin, maar daar is skoenlappers, lieweheersbesies en die ultimate vir enige tuin, bye en erdwurms.
“’n Groentetuin vra vir absolute toewyding, dit soek elke dag aandag. Jy kan nie slaplê nie, dan gaan jy daarvoor betaal. En as iets nie werk nie, is dit nie die einde van die wêreld nie, doen jou huiswerk beter en probeer weer.”
Maro is van mening dat die tyd nou meer as ooit aangebreek het dat dorps- en stadsbewoners hul eie groentetuine moet aanlê.
“Die genot om te sien hoe ’n plantjie van baie klein af groei totdat dit vir jou groente of vrugte lewer, is onbeskryflik lekker. Ja, daar is soms misoeste, dit is deel van die lewe en ook in ’n groentetuin.
“Maar die tyd in die groentetuin, die honde wat saamsnuffel, kyk wat ek doen of sommer net om my lê wanneer ek bedrywig is, is ’n vrede wat my eie wortels diep raak.”



