’n BREË glimlag en gesonde tande is van die beste én mooiste gesondheidsbates waarmee ’n mens kan rondloop. Danksy ’n geliefde tandarts van Despatch, dr. Faan Hechter (64), is daar baie mense op dié dorp, ander Oos-Kapenaars, Suid-Afrikaners op nasionale vlak en selfs oorsese mense wat breed kan glimlag.

Dr. Hechter het op 2 Oktober 1989 by dr. Frik Claassen op Despatch as vennoot aan-gesluit. Ná 30 jaar en ’n maand wat hy gepraktiseer het, het dr. Hechter in November 2019 weens gesondheidsredes sy geliefde beroep vaarwel toegeroep. Hiermee het hy ook die geleentheid vir ewe passievolle jong tandartse geskep om ook te help sorg dat mense met selfvertroue breed kan glimlag.

Dr. Faan Hechter. Foto:DENTISTS@HEALTH

Dit was destyds dr. Hecther en dr. Frik Claassen se passie vir alle fasette van gevorderde tandheelkunde wat daartoe gelei dat hulle in samewerking met dr. Johan Scherman en dr. Con Potgieter die toon-aangewende tandartsgroep, Dentists@ Health, in 2005 begin het. Die eerste praktyke was op Despatch en Kariega (Uitenhage) en kort daarna is Dentists@Health-praktyke ook in Nelson Mandelabaai gevestig.

“Tandheelkunde het oor die 30 jaar geweldig ontwikkel. Die laaste 10 jaar het ek dit verskriklik geniet, maar net toe ek goed vertroud was met die nuutste tegnologie, moes ek uittree,” sê Dr. Hechter.

“In ons bedryf gaan dit nie nie net oor tande stop, tande trek en valstande maak nie. Vir ons praktyk-groep gaan tandeelkunde oor ’n integrale deel van ’n mens se gesondheid. As jy nie mondgesondheid het nie, is daar nie ’n manier wat jy ’n gesonde mens kan wees nie.”

Dr. Hechter vertel verder hoe hul praktyk se holistiese benadering tot tandheelkunde teenstand van sommiges in die bedryf ontlok het.

“Boonop beskou die departement van ge-sondheid in Suid-Afrika tandheelkunde nie as ‘n prioriteit in algemene gesondheidsorg nie,” voeg hy by.

Tog volhard Dentists@Health in hul holistiese benaderings, iets wat die goedkeuring wegdra van ’n gerekende studiegroep van sowat 20 tandartse in die Oos-Kaap, waarvan sommiges op die voorfront van navorsing is. Daar is ook al gesê dat dié praktyk-groep nie net tred hou met die nuutste prosedures nie, maar selfs nuwes skep.

“Ek was deel daarvan en dit was lekker, want jy behandel jou pasiënte met hul ge-sondheid as primêre fokus.

“Ons hele groep behandel byvoorbeeld kinders van ’n jong ouderdom af vir asemhalingsprobleme. Reeds by voorgeboorte-klasse word beklemtoon hoeveel beter as enigiets anders borsvoeding is vir jou baba se bo-kaak ontwikkeling. Aspekte soos hierdie het ’n geweldige impak op ’n mens se algemene gesondheid.

“Ek was baie lief vir my werk. Almal praat van aftree, maar dit is nie vir my lekker om nié te werk nie en ek mis my pasiënte. Maar, ek moet aanvaar hoe my gesondheid nou is en elke oggend wanneer ek wakker word, sê ek dankie vir die Here.”

Dr. Hechter sê toe hy begin praktiseer het, was tandartse die sewende hoogste verdieners van enige professionele beroep, 20 jaar later het die beroep nie eers onder die eerste 70 top-verdieners getel nie.

“So, as jy vir finansies wil tandarts word, kies ’n ander beroep. Jy moet ’n passie hê vir tandheelkunde, dit moet vir jou lekker wees om met mense te werk. Jy kan hoe vaardig wees, maar as jy nie mensekennis of goeie menseverhoudings het nie, los maar eerder die beroep.”

Dr. Hechter se tandheelkundige-stoelassistent en regterhand vir 28 jaar, Zelda Fourie, het drie weke gelede ook uitgetree.

Stilsit is nie deel van Dr. Hechter se samestelling nie en alhoewel hy nie sy geliefde sportskiet op hierdie stadium kan beoefen nie, spandeer hy heelwat tyd aan sy koolstofkunswerke. ’n Kunspassie wat hy deel met sy vrou Annalie wat bekende plaaslike kunstenaar is.

Dr. Hechter bedank graag sy vennote, personeel en stuur ’n spesiale dank aan al sy pasiënte oor die sowat 30 jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article