Raadslid Frans Swanepoel op die verlate peron van die eens bedrywige Despatch-treinstasie. Foto:HEILIE COMBRINCK


Die stilte van die treine het baie mense hul werk gekos en moeilike tye gebring, terwyl ander se dae nou skoon deurmekaar is.

Die Passassierspooragentskap van Suid-Afrika, Prasa, se Metrorail-treine loop sedert begin Januarie vanjaar nie meer deur Despatch of na Kariega toe nie. Vir sommiges beteken dit werkloosheid en vir ander duurder vervoer. Dan is daar inwoners wat nou deurmekaar voel, want die treine se kom en gaan is stil en nou het hulle tred verloor met die dag se ritme.

Sedert 2020 is daar breedvoerig berig oor die verval van Prasa se infrastrukture regoor die land. Ook plaaslike stasiegeboue tussen Kariega en Gqeberha is so gevandaliseer dat hulle in onbruik verval het.

‘n Prasa-sekuriteitsbeampte wat verkies om anoniem te bly en by een van dié stasies moet waghou het gesê hy vrees soms vir sy lewe. “Die outjies wat kom kwaaddoen loop nie alleen nie en kom met gereedskap. Ek het geen wapen om my mee te verdedig nie en moet die polisie bel as daar moeilikheid is.”

Hy het gesê hy kry die mense jammer wat nie meer van die passassierstreine gebruik kan maak nie want waar hulle voorheen R9.50 betaal het om Baai toe te ry kos dit hulle nou meer as R30 om by hulle werke te kom.

New Brighton-stasie, eens ’n plek waarvandaan tientalle mense daagliks met die trein na hul werkplekke gery het, is totaal gevandaliseer. Foto: VERSKAF

Erica Retief van Despatch het vir byna 15 jaar elke dag trein gery Baai toe en is een van die passassiers wat op 7 Januarie vanjaar die sms-boodskap gekry het dat Prasa alle passasiersdienste onmiddellik ophef.

“Ek was by die werk in die Baai en het om 14:30 die trein terug Despatch toe gevat. Om 13:15 het Prasa ‘n sms-boodskap gestuur ‘… our service between Uitenhage and Port Elizabeth has been terminated until further notice’. En dit was dit, geen rede, geen verdere kommunikasie nie. Ons almal moes van alternatiewe vervoer begin gebruik maak,” sê Retief.

“Om trein te ry het my R384 per maand gekos, nou kos my vervoer na die Baai en terug my sowat R2 000 per maand en brandstof word wéér duurder. Die busse is R18 per rit, maar daar is nie ‘n bus terug Despatch toe teen die tyd dat ek klaar gewerk het nie. Ons is ‘n hele klomp wat daarop is en ek weet van baie mense wat hulle werke verloor het omdat hulle nie die duurder vervoer kon bekostig nie.”

Raadslid Frans Swanepoel van Despatch sê dit is hartverskeurend om te dink dat die spoorweë eens een van die beste werkverskaffers was met ‘n infrastruktuur wat uitnemend bestuur is. “Dat so ‘n diens wat vir menigte die enigste vorm van vervoer was om ‘n inkomste te verdien so verval het is Godskryend en ‘n skande.

“Van ons inwoners wat hulle werke verloor het, het nou geen besteebare inkomste nie. Dit veroorsaak ‘n hele ekonomiese-kettingreaksie want nou word daar minder by die kafee-op-die-hoek of winkel gekoop,” sê Swanepoel.

Vir ander wat naby die spoorlyn bly, is die stilte van geen treine nie ‘n “ontwrigting”.

Marie van der Merwe woon sedert 1975 op Despatch in Pienaarstraat naby die spoorlyn. “Gewoonlik het ons die treine in die oggend om half-ses, ses-uur, half-sewe, kwart-voor-sewe, sewe-uur, vyf-oor-sewe, agt-uur gehoor. Nou is dit doodstil want daar is geen treine nie.

“Ons is so gewoond om op te staan as ons die half-ses trein hoor. Nou voel dit of ons dag se ritme heeltemal versteur is want ons lê en wag om op te staan en die trein kom nie.”

Sy sê so nou en dan “elke tweede of derde dag sien ons die trein wat Volkswagen se karre vervoer. Ons voel baie jammer vir die mense wat afhanklik was van die passassierstreine, hulle lewens is nou heeltemal ontwrig.”

  • Prasa het teen druktyd nie gereageer op vrae wat deur die UD Express aan hulle gerig is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article