GEEL is die son, sonneblomme, heuning en ‘n helderkleur vir hoop waarna almal smag.
Daar is genoeg negatiewe dinge in ‘n dag wat jou op moedverloor-se-vlakte kan laat, maar daar is ook positiewe dinge en die hoop vir beterskap. Met dit in gedagte, het Lé-Anke de Lange van Lichtenburg met die Bome van Hoop-inisiatief begin.
Diè inisiatief het oorgespoel na dorpe regoor die land en op Despatch maak Adrie Ferreira dit haar missie om te help om met geel lappe om bome, pale, teen deure of heinings, die gedagte aan hoop oral sigbaar te maak.

“Geel is simbolies aan hoop en oorwinning. En ook die kleur van mosterdsaadjies, die kleinste van alle saadjies, maar groei baie geil wanneer dit geplant word. Hierdie hoop-inisiateif gaan daaroor om deur ‘n geringe daad ‘n groot verskil te help maak,” sê Adrie, die plaaslike verteenwoordiger van Bome van Hoop.
“Ons het nou meer as ooit tevore ‘n verant-woordelikheid om mense hoop te probeer gee. Daar is steeds soveel genade in elke dag. Daarom, wanneer jy by ‘n boom met ‘n geel lap verbyry, dink aan mense in nood, bid vir hulle en help só om hoop te versprei.”
Volgens Adrie samel elke dorp wat aan die Bome van Hoop-inisiatief deelneem, geld vir ‘n spesifieke doel in om ‘n verskil op die betrokke dorp te maak.
“Op Despatch wil ons mense help wat weens COVID-19 in nood is. Ons kan nie geld gee nie, maar kan help met kos, klere en ander noodsaaklikhede.”
- Die Bome van Hoop-pakkies is teen R20 elk beskikbaar by Adrie. Vir meer inligting bel haar by 076 090 5976.




