GEMEENSKAPPE in Addo en Kirkwood moet hul veiligheid en paraatheid opskerp.
Dié beroep kom van die burgerregte-organisasie, AfriForum. Volgens Johandré van Zyl, hoof van AfriForum se Suidstreek Gemeenskapsveiligheid, is dié gebied sedert einde Maart deur sewe plaasaanvalle geteister.
“In die mees onlangse geval, op 1 Augustus omstreeks 20:30, is 24 plaaswerkers deur nege aanvallers van hul lone, kos en selfone beroof,” sê Van Zyl.
Tydens dié aanval het drie verdagtes vuurwapens gehad en die ander ses was met ’n verskeidenheid messe, onder meer ’n kapmes, gewapen. Niemand is in die aanval beseer nie.
“’n Tekort aan polisiehulpbronne maak die Addo-gebied besonder kwesbaar. Ons doen ’n be-roep op die gemeenskap om hulself te organiseer om voorbereid en paraat te wees,” sê Van Zyl.
Aanvalle in die Addo- en Kirkwood-gebied word gewoonlik deur groepe van twee tot vier verdagtes gepleeg, met die uitsondering van die onlangse een. Daar is nie ’n duidelike tendens oor die tyd van die dag wat die aanvalle plaasvind nie. In meeste gevalle word kontant gesteel.
“Aanvalle op plaaswerkers is, net soos op boere, ’n aanval op voedselsekerheid in ons land. Daarom moet betroubare plaaswerkers ook by veiligheidsinisiatiewe en opleiding betrek word,” sê Van Zyl.
AfriForum kon reeds 16 aanvalle in die Oos-Kaap vir 2019 bevestig, teenoor die 22 aanvalle in dié provinsie oor dieselfde tydperk in 2018.



