DIE Laerskool Frans Conradie het ’n suksesvolle gholfdag aangebied om geld in te samel vir die o.13-rugbyspan se toer na Nxuba (Cradock) in die Maart-vakansie.
Die skoolhoof, Zanes Grobler, sê al die wins wat gemaak is, word ten behoewe van die toer aangewend.
Intussen heers groot opgewondenheid oor die toer wat die Hoër Landbouskool Marlow al langer as 15 jaar aanbied.
Marlow nooi normaalweg 26 o.13-spanne van regoor die land en daar word daagliks bepaal wie speel volgende teen mekaar deur na die dag se uitslae te kyk.
Dit word op ’n krag teen krag-grondslag bepaal.
“Sodoende speel ons teen skole wat ons andersins nooit teen sou speel nie.
“Dit is dus ’n lekker uitdaging en ondervinding soos min.
“Daarom is dit elke o.11- en o.13-speler se droom om die toerspan te haal,” sê Grobler, wat saam met Brendan Human die span se afrigters is.
Frans Conradie gaan met goeie ervaring Nxuba toe.
Vyf van die spelers wat verlede jaar al gereeld vir die span gespeel het, is vanjaar in gr. 7 en dus weer beskikbaar. Hulle kan dus ervaring en kalmte na die span bring.
Grobler sê die gholfdag was weereens ’n reusesukses.
“Daar is nie wenners nie en telling word ook nie gehou nie, want dit gaan uit en uit oor pret en geesbou. Ons het ook baie geluktrekkings gehad.
“Dit is ’n manier van fondsinsameling en hier is ander skole wat dit ook doen, maar elkeen op sy eie unieke manier.”
Hy sê weens die droë weer moes hulle inisiatief aan die dag lê vir groener setperke.
“Dit was omtrent pret vir oud en jonk vir die 110 spelers en is oor nege putjies op die skoolterrein aangebied. Die besighede en instansies van ons dorp het ons skitterend ondersteun met die borg van putjies, pryse, natgate en donasies. Al ons borge kon bemarkingsmateriaal by die putjies uitstal en kry blootstelling op ons sosiale mediaplatforms. Na die tyd is lekker gesels en gebraai. Dit was ’n uiters gesellige dag,” sê Grobler.



