HERSKEP jouself deur jou ander passies te identifiseer en fokus dan jou aandag en inspanning daarop sodat jy ’n ander of bykomende werkgeleentheid vir jouself kan skep.

Dít, in kort, is wat Anriette Schoeman, professionele fietsryer die afgelope 20 jaar, begin doen het omdat die COVID19-pandemie ook haar professionele fietsryloopbaan begin beïnvloed het.

’n Vinnige blik op Anriette, Baaienaar, se suksesvolle fietsryloopbaan wys onder meer ’n sewe maal Argus-fietstoerkam- pioen en Olimpiese deelnemer.

Fietsry is haar grootste passie en sy oefen nog nagenoeg vier ure elke dag, sê Anriette, maar sy is ook passievol oor klaviere en klavierspel, diè dat sy deesdae die vakleerling is van Reon Brown, een van net vyf erkende klavierstemmers in die Oos-Kaap.

Speke-sing en note-stem

Maar hoe op dees aarde bring Anriette speke sing en die stem van klaviere byme-kaar?

Sy glimlag. “Ek het klavier gespeel nog voor ek fiets gery het. Dit is maar in my familie – ek het klavier as ’n vak op skool tot in matriek gehad en gegaan tot by Unisa graad 8.”

Anriette se vingers het egter nog altyd bly jeuk vir klavierspeel en toe sy en Reon verlede week ’n klavier op Despatch vir Gwyneth Plaatjies (20) ’n tweedejaar musiekstudent aan NMU gaan stem het, het sy gou ’n ingewikkelde klassieke stuk sonder bladmusiek gemaklik gespeel.

“ Ek is so bietjie soos August Rush, as ek ’n klank hoor, kry dit ritme en maak ek musiek daarmee in my kop. Daar is altyd musiek in my kop wanneer ek fietsry.”

Die Despatch-klavier wat sy en Reon gaan stem het, was eers Gwyneth se ouma s’n, toe haar ma s’n en nou is sy die derde generasie wat musiek maak op die statige swart Rich Lipp & Sons Stuttgart.

Om hul werk te doen, haal Reon en Anriette die swaar panele van die klavier af om by die binnewerke uit te kom. Teen die goue binnekant staan die reeksnommer 35463, wat volgens Rich Lipp & Sons Stuttgart se webtuiste beteken die klavier is in 1914 in Duitsland vervaardig.

Aanpassing by veranderende tye

Met die COVID19-pandemie en die kompeterende fietsrygeleenthede wat minder raak, het Anriette bykomende opsies begin oorweeg.

“Ek het besef ek sal myself moet reinvent sodat ek ook iets anders kan doen. Weet jy, ek geniet klavierstemmery só, ek sal dit voltyds kan doen, want vir my sal dit nie ’n werk wees nie, dit sal net nog ‘n passie wees.”

Sy was al lankal Facebook-vriende met Reon en het toe begin om al sy doen en late op sy Facebook-blad dop te hou.

“Ek het hom gestalk,” erken Anriette laggend, “want ek het al gesien hoe stem mense klaviere en ek is vreeslik geinteres seerd daarin. ’n Paar maande gelede het ek hom gevra of ek nie asseblief sy appy kan wees nie.”

Anriette Schoeman saam met klavierstemmer Reon Brown (links agter) en Gwyneth Plaatjies (regs) ’n tweedejaar musiekstudent aan NMU by haar antieke Rich Lipp & Sons Stuttgart klavier. foto:HEILIE COMBRINCK

Dit is nou al twee maande dat sy saam met Reon uitgaan om klaviere te gaan stem.

Reon sê dit nie reguit nie, maar tussen sy woorde hoor jy wel dat hy aanvanklik eers die kat uit boom wou kyk, want ’n fietsry-kampioen en ’n klavierstemmer het ook vir hom soos twee afsonderlike wêrelde geklink.

Nou is hy verheug dat hy Anriette by hom as vakleerling laat aansluit het.

“Daar is so min klavierstemmers in die Oos-Kaap. Ek laat haar dikwels alleen werk– terwyl ek natuurlik by is, want jy moet ook verstaan hoe die meganisme van ’n klavier werk – en sy leer verskriklik vinnig.

“As daar iets fout is met die meganisme van die klavier, dan sê ek vir haar Anriette, kyk of jy dit kan kry en weet jy, die meeste van die tyd kry sy dit! Ek is regtig baie trots op haar en, ek is baie trots dat sy my vakleerling is – ek meen, wat wil jy beter hê?”

Deesdae bestee Anriette soveel tyd as moontlik aan haar vakleerlingskap.

“Elke oomblik wat ek af het – ek oefen nog en gee ook fietsry-afrigting – spandeer ek of om te stem of iets te doen met klaviere.

“Daar is soveel dinge van klavierstem en fietsry wat dieselfde is – dit is ‘n gefokusde werk. Met klavierstem moet jy presies wees. Jy fokus om die noot op presies die regte pitch te kry en dit is hierdie aspek van die klavierstemmery wat dit vir my so n soothing ervaring maak.”

Kan ons verwag dat Anriette binnekort met singende speke by huise en konsertsale sal opdaag om klaviere te stem?

“Ek sal graag eers Reon se goedkeuring wil hê ten opsigte van die kwaliteit van my werk, want dit is sy legacy wat ek voortdra. Ek kan al stem, maar ek het groot skoene om te vul, want Reon is ongelooflik goed.”

  • Luister môre in die tydgleuf 14:20 – 15:00 op RSG na wat Anriette te sê het oor dié nuwe klavierstem-uitdaging wat sy met ‘n lied in haar hart aanpak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article