’n PAAR tuine en grasperke op Uitenhage het in die slag gebly nadat ’n groep fietsryers die Fuel on Wheels-uitdaging aanvaar het om vir 24-uur in hulle erwe en selfs deur hul huise en motorhuise te ry ten bate van liefdadig-heid.

Johan Oosthuizen saam met sy vrou Ronelle en hul seun Jayden (2) wat vir 17km saam met sy pa op hulle erf al in die rondte gery het. foto:VERSKAF

Aan die stuur van die inisatief was maltrap Johan Oosthuizen, wie bekend is vir sy uitmergelende fietsry-uitdagings. Die keer was die uitdaging ten bate van ILoveBoobies, ’n liefdadigheids-organisasie wat in samewerking met die Kanker-vereniging van Suid-Afrika hul beywer om gesondheidsorg na landelike gebiede te neem spesifiek vir vroue met borskanker.

“My vrou se tuin lyk nou soos ’n mountain bike trail. My mikpunt was 200km, maar hier by 154km het my knie opgepak. Dit was intens om elke minuut dieselfde roete te ry, ek was op soos ou toast,” se Johan.

“My gemiddelde spoed op die 98 meter baan was so 10km/h. Dit was die heeltyd briek en trap. As ek vinniger sou ry, sou ek in die buurman se erf beland het. Die vinnigste wat ek kon ry was 30km/h. Hierdie lockdown is erg vir almal. Ek kan nie stilsit nie, ek moes ’n rede kry om fiets te ry. Ek kan nie so stilsit nie.”

Johan se vrou, Ronelle, was heeltyd daar om hom te ondersteun. Hulle seun Jayden (2) het die eerste 17km agterop sy pa se bergfiets saam met hom al om die huis gery, voordat hy aan die slaap geraak het.

“Jis, ek het groot waardering vir al die fiets-ryers wat aan die uitdaging deelgeneem het. Dit was weer ’n bewys hoe die mense van Uitenhage saamstaan, ten spyte van die ongelooflike moeilike tyd waarin ons almal is met hierdie Covid-19-pandemie.”

Fietsryers het die 24 uur in skofte tussen hulle opgedeel. Party het ’n uur en ander weer ’n paar ure gery of besluit om ’n spesifieke afstand te ry. Deelnemers het altesaam ’n totaal van byna R28 000 vir ILoveBoobies ingesamel.

“In die swaarste tyd wat ons ooit beleef het, is dit flippen unbelievable dat ons soveel geld kon insamel. Die dorp is vol engele. Ek is sprakeloos oor mense se omgee. Daar is hoop, baie hoop!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article