
TWEE maltrappe vir liefdadigheid het kisboude, na 33 uur op ’n fietssaal oor ’n afstand van 500,7km deur die Karoo, die Kirkwood Tafelronde 78 fietsry-uitdaging met sukses kaf getrap.
Die doel van die Ride4Charity uitdaging, wat verlede Vrydag en Saterdag gehou is, was om geld in te samel om die groeiende kosnood in die Sondagsriviervallei, weens die COVID-19 pandemie, te help verlig.
Fietsryers Regardt van der Merwe van Kirkwood Tafelronde en Johan Oosthuizen van Uitenhage, het die uitdaging aanvaar om binne 48 uur ’n sirkelroete oor vier Oos-Kaapse dorpe te voltooi. Die publiek en besighede is aangemoedig om die fietsryer te borg teen ’n Rand per kilometer. Enige afstand kon geborg word, want elke Rand gaan ’n verskil maak.
“Dit was ’n taai uitdaging. Regardt is ’n professionele tennisafrigter en baie fiks, so hy het die pas gegee en ek moes trap en bybly,” sê Johan Oosthuizen, wat ook deel is van Fuel On Wheels, ’n nie-winsgewende organisasie wat help waar daar nood is.
“Niks op daardie roete was maklik nie, behalwe die laaste paar kilometer op die teerpad terug Kirkwood toe.
“Ek het al duisende kilometers agter die rug op ’n padfiets, maar die verste nog wat ek op ’n bergfiets gery het was 140km met die Angora-bergfietsuit- daging. So hierdie 500,7km was so erg soos om vyf keer die Angora te doen.”
Die fietsryers het regdeur die nag gery. Daar is wel Vrydag by die Royal Hotel op Steytlerville afgetrek om die innerlike te versterk.
“Ons sewe ouens was so honger, dit was soos rush houer daar in die hotel, nie oor die hoeveelheid mense nie, maar die hoe-veelheid kos wat ons geëet het.”


Daarna is die pad na Willowmore gevat en die manne moes hulle vir sowat 40km staal teen koue nadat die temperatuur tot by twee grade gedaal het.
“Dit was nie ’n maklike uitdaging nie, maar elkeen van die ouens wat saamgetrap het, het hul eie karakter en dit maak dat ’n mens saam deur die ding kom.
“Roland se fiets het gebreek en hy het dit net daar gestrip en reggemaak. Die manne in ons ondersteuningsvoertuig het op hul beurt die spangees hoog gehou met hulle worsbraaiery tussen niks en nêrens. Dit is sulke dinge wat taai uitdagings onvergeetlik maak.”
Die Kirkwood Tafelronde 78 se mikpunt was om R10 000 in te samel. ’n Totaal van sowat R14 000 was teen Maandag inbetaal en volgens Oosthuizen is daar steeds geld wat inkom.
“Wat my hart regtig geruk het, is toe mense wat ek weet self baie swaar kry, ’n R100 vir ons gegee het. Dit is vir my soos ’n miljoenrand.”
Buiten die geld, het die publiek ook bokse vol klere geskenk.
Die fietsryers het by Dagbreek Spar op Kirkwood weggespring op pad na Steytlerville, Willowmore, weer terug na Steytlerville, dan na Jansenville en weer terug Kirkwood toe.
“Dankie aan al die ondersteuners, die manne wat saam met ons getrap het en wat gesorg het dat ons veilig bly. En ook aan elkeen wat ons geborg het, elke Rand gaan beslis ’n groot verskil aan die mense se kosnood maak,” sê Oosthuizen.
Wat is die volgende fietsry-uitdaging?
“Ek wag vir die volgende oproep. Tot dan is ek bietjie op pensioen.”

