Om ‘n boer te sien huil oor die vernietigende gevolge van droogte op sy veld, het fietsryer Johan Oosthuizen só geraak dat hy besluit het om vir 365 dae lank, elke dag 100km fiets te trap, om te help met geldinsameling vir Droogtehulp.
“Mense op dorpe en in stede hoor van die droogte, maar besef nie dat geen reën geen inkomste beteken nie. Boere moet dag na dag sien hoe hul vee van hongerte doodgaan. Daar is nie meer kos of water in die veld nie, selfs die wilde diere word nie ‘n hongerdood gespaar nie,” sê Johan Oosthuizen van Fuel on Wheels.
Die droogte, wat beskou word as die ergste in menseheugenis, woed in die Jansenville-, Willowmore-, Steytlerville- en Klipplaat-omgewings.
Alhoewel Johan 100km per dag trap, is dit soms bietjie meer en ry hy ‘n gemiddeld van 787km per week fiets. Sy totale kilometerlesing staan vandag op byna 33 300km.
Dit beteken Oosthuizen het nog net 3 200km oor om sy doel van 36 500 te bereik. Intussen rol die borge se geld in.
“Ons het verlede week amper R300 000 binne ses ure op ‘n sms en Whats-App-lyn vir Droogtehulp met Burre Burger, Fuel on Wheel en LuisterFM ingesamel. Die dorp se mense is warm as dit kom by hulp.
“Dit gaan nie net oor voer vir die diere nie, dit gaan ook oor skoolgeld vir daardie boere se kinders, mediese rekeninge, kos en ander uitgawes. Onthou, geen reën beteken géén inkomste vir die boere.”
“Mense vra hoe kry ek dit reg om 100km ‘n dag te ry? Dis jou lyf, jy moet net vir jou kop sê jy gaan dit doen en doen dit!
“Dit is nou al deel van my daaglikse bestaan. Soms is dit moeilik, maar ek sal aanhou, want dit gaan oor hoop, om ander te help, en mense koop in op die journey. Dit is my inspirasie,” sê Johan.



