LEEVA en Luca was onafskeidbaar, maar ‘n oop hek het daartoe gelei dat dié hegte hondeband nou in ‘n hartseer verhaal verander het.
Al die afgelope drie weke het die Erasmus-egpaar van Amandastraat, Van Riebeekhoogte op Uitenhage, slapelose nagte oor hul geliefde vierpoot Leeva wat spoorloos verdwyn het.
Die twee reuns het op 15 Mei by die erf uitgekom nadat die hek per ongeluk oopgelos is. Toe Rassie en Cobie Erasmus agterkom Leeva en Luca is weg, het hulle dadelik begin soek en plakkate oral in die woonbuurt opgesit.
“Ek is skoon siek. Ek bekommer my morsdood oor waar Leeva kan wees. Ons soek nog elke dag na hom. Ons ry en soek of loop en roep. Jy weet hoe lief ‘n mens vir jou honde kan raak, hulle is soos ons kinders ,” se Cobie.
“Ons honde kom nie uit die jaart uit nie en hulle ken nie van strate nie. Dit is hoekom ons so bekommerd was toe hulle die pad gevat het.”
“Mense het dieselfde dag wat die honde weggeraak het, hulle daar by Spyros Kwikspar en langs die spoorweg gesien. Iemand het gebel en gesê die honde is daar by Albertyn-skool. Ons het dadelik soontoe gegaan, maar kon net vir Luca kry. Leeva was toe nie meer saam met hom nie.”
Leeva is sewe jaar oud, ligbruin van kleur en volgens Rassie lyk hy baie soos ‘n Australiese dingo-wildehond.
“Leva is ‘n verskriklike bang hond. Van kleintyd af was Luca, ons Labrador, baie beskermend oor Leeva. Nou weet arme Luca ook nie waar sy maat is nie,” se Rassie.
Die Eramusse het al oral vir Leeva gesoek. Hulle het verskeie oproepe gekry van mense wat ‘n hond sien rondloop en dan het Rassie hoopvol gaan kyk, maar dit was nie Leeva nie. Hulle het ook die Uitenhage Dierebeskerm-ingsvereniging gekontak om te hoor of Leeva nie dalk daar ingehandig is nie.
Rassie se, “Ek het nou die aand gedroom ek kry Leeva.”
Maar die droom is nog nie bewaarheid nie en die Erasmusse bly nog hoop dat Leeva sal terugkom huistoe.
- Enigeen wat Leeva gesien het of weet waar hy is, word gevra om Rassie en Cobie Erasmus te bel by 073 598 4077.


