Erica Goliath, Andrea Rautenbach en Charmaine Peters van Symara se fabriekswinkel wat nou nóg grooter is met verskeie ander uitstallers se items. Foto:HEILIE COMBRINCK


Lank voor Neil Armstrong sy eerste tree op die maan gegee het, het die destydse breifabriek op Despatch, Symara, al diep spore in die plaaslike tekstielbedryf getrap.

Innovasie was nog altyd deel van dié familiebesigheid se sukses en môre maak hulle wéér so, wanneer hul ou wolskuur se deure wyd oopgaan vir ‘n verskeidenheid unieke uitstallers.

“Dié uitbreiding het baie vinniger gebeur as wat ek verwag het. Ons fabriekswinkel het begin knap raak vir ons dekor-reekse en toe vra ek my pa (Gerrit) of ons nog spasie in die ou wolstoor kon omskep as uitstalruimte,” sê Andrea Rautenbach, die derde generasie van Symara tekstielvervaardigers op Despatch.

“Nou het ek so baie uitstalplek, dat ons besluit het om ander uitstallers wat nog nie op Despatch uitstalruimte het nie, hierheen te nooi. Die reaksie was oorweldigend positief en ons is baie opgewonde om die publiek uit te nooi na dié nuwe uitstalruimte wat môre amptelik oopmaak.”

Meeste van die sowat 20 uitstallers se produkte is handgemaak en dit wissel van velskoene, leeritems, handdoeke, gegeurde kerse, sakke, baditems, klere vir babas, vetplante van Agterplaas, koffie, heuning, rissieprodukte tot gebakte lekkernye en vele meer.

“Dit bied basies die excitement van ‘n Kersmark, maar die verskil is dat dié mark elke dag is. Dit is die ideale winkel om geskenke vir oud en jonk te kan koop. Om dit makliker te maak het ons selfs geskenksakke ook hier waarin die items gepak kan word.”

Gerrit vertel dat weens die verandering in mark en afname in die vraag na wolprodukte soos skool- en rugbytruie, was hulle genoodsaak om te innoveer en het items vir die dekormark begin maak.

“Dit was so suksesvol dat dekor nou ons hoofstroom-vervaardiging is,” sê Gerrit.

“Ons het ook ‘n nuwe sisteem in plek wat aan elke uitstaller wys presies wat en hoeveel van watter spesifieke produkte verkoop is, selfs die tyd van verkope. Dit gee uitstallers ‘n goeie idee watter produkte is goeie verkopers en watter nie, om sodoende hulle voorraad aan te pas.”

Alle kliënte wat môre en Saterdag items by dié geskenkwinkel koop, staan die kans om van die hope gelukkige pryse te wen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article