ERNS Grundling, joernalis, skrywer en TV- aanbieder, het sy grootworddorp, Uitenhage, ingesluit by ’n landwye toer van sy tweede reisboek, Sushi en Shosholoza.
Nog ’n bekende joernalis van Uitenhage, Veronica Fourie, sal met Erns op Maandag, 28 Oktober om 18:00 by The Caledon gesels oor dié nuutste boek van hom.
“Ek is so bly Uitenhage kan ook deel wees van hierdie boektoer,” sê Erns.
“My grootworddorp lê my na aan die hart en dit was ’n voorreg om my eerste reisboek, Elders, hier bekend te stel in 2017.”
Erns se boektoer het begin in Pretoria en teen die tyd wat hy Uitenhage besoek, sou hy al ook in Nelspruit, Bothaville, Wesselsbron, Bloemfontein en Rosendal opgetree het.
Hy gaan ook op Dinsdag, 29 Oktober om 18:30 met Charles Tait gesels by Exclusive Books in Walmer Park in Port Elizabeth. Daarvandaan toer hy na George en Hermanus.
Sushi en Shosholoza is Erns se verslag oor sy reis na Japan saam met ’n klein kameraspan om die kykNET-reeks Elders: Japan te verfilm.
Tussen pelgrimstogte soos die Kumano Kodo, die Camino se sustersroete, die uitklim van Mount Fuji en onderhoude met SA-rugbyspelers (en sendelinge) in Japan – ook met Dan Carter én Jake White – kry lesers nes in Elders terug-flitse na Erns se jeug.
Van ’n laaitie wat OP se wedstryde op die ou Boet Erasmus-stadion ademloos volg tot vandag se Erns wat in sy Brave Blossoms-trui stomge-slaan sit en kyk hoe Japan nou éintlik ’n rugbywedstryd hanteer.
Hy vier ook Halloween in Osaka, drink groentee in Kyoto en raak stil in Hiroshima se Vredespark.
Kom stap nog ’n slag saam met Erns, dié keer op die plek waar talle Suid-Afrikaners tans die Bokke ondersteun. Konnichiwa, Japan!
Toegang tot Maandag se gesels van Veronica en Erns by The Caledon op Uitenhage is gratis en eksemplare van die boek sal by die geleent-heid te koop wees.
- Bevestig bywoning so spoedig moontlik by sushioptoer@gmail.com.





