“Daar is ’n tyd om te kom, en ’n tyd om te gaan. En ek het nou die einde van ’n era bereik.”
So sê Ernest Dyer wat 35 jaar gelede met Noel’s Lawnmower Services op Kariega begin het, en nou die tuig gaan neerlê.
Ernest het op 16 Januarie 1987 die besigheid by Noel Hübsch gekoop. Vyf jaar later het die besigheid só uitgebrei dat hy ’n groter perseel, die ou dubbelverdieping Van Breda-meisieskoshuis van Brandwag op die hoek van Caledon- en Victoriastraat, gekoop het.
“Dit was lank, lank, gelede in 1992. Ek het die swembad toegegooi en die winkel en werkswinkel voor aan die ou koshuis opgerig en die gebou Dyer Corner genoem,” sê Ernest. Die besigheid het van grassny in privaat-tuine uitgebrei na ’n gespesialiseerde diens van grassny langs paaie, by fabrieke, munisipale parke, skole, en meeste plaaslike besighede. In ’n stadium was daar 89 werkers om al die werk te doen.”
Ernest sê die bedryf het intussen baie verander met ongeveer 84 grassny- of tuindienste in die omgewing. Volgens hom is daar baie werk. Nie net om gras te sny nie, maar veral om die grassny- toerusting te diens.
“Twee dae nadat ek die besigheid in 1987 gekoop het, het Samuel Plaatjies hier aangeklop vir werk. Ek het hom opgelei as ’n werktuigkundige en hy is uitstekend. Deesdae word hy selfs deur ander diensplekke gebel vir raad,” sê Ernest.
“Ek wil graag al my kliënte oor die 35 jaar bedank vir hulle ondersteuning. Dit was goeie jare, pragtige vriendskappe en wonderlike tye.”
Ernest gaan na sy uittrede nie gras onder sy voete laat groei nie en wil betrokke raak om Kariega, wat eens as die Tuindorp van Suid-Afrika bekend was, in ere te help herstel.
“Willowdam is eintlik Uitenhage (Kariega) se strandoord. Dit is die enigste plek waar mense kan piekniek hou en in die natuur kan ontspan. Vroeër jare was dit pragtig, maar is nou ’n seer oog. Ek wil met die regte mense onderhandel en toesien dat plekke soos Willowdam weer ’n gewilde plek word om heen te gaan.”




