WAT begin het as ’n selfopgelegde uitdaging om vir 40 dae elke dag 100km fiets te ry, mik Johan Oosthuizen nou daarna om 40 075km (die afstand om die wêreld) gedeeltelik in die gerief van sy huis in Kariega kaf te trap.

“Met so tien vergaderings ’n dag terwyl ons maatskappy al sy werkers teruggestuur het na vlak 5 van die COVID-19 inperking, jaag ek so 300km ’n dag hier binne in my huis.

“Dit is ’n flippen insane tyd waarin ons nou leef. Die fietsryery hou my sane,” sê Johan Oosthui-zen, streeksbestuurder van Monster Energy.

“Party dae dink ek self ek is mal, maar ek was nog nooit so fiks soos nou nie. Fietsry is my lewe, dit hou my kop reg.”

Johan Oosthuizen en sy vrou Ronelle wat met elke uitdaging aan sy sy is. Foto:VERSKAF

Johan sê nie sommer nee vir ’n uitdaging nie, veral nie wanneer dit gaan vir liefdadigheid of om iemand te help nie. Sy eerste 40 dae 100km-per-dag-uitdaging was na die afsterwe van sy ma Mary-Ann Oosthuizen op Nuwejaarsdag vanjaar.

“Dit het my kwaai gevang. Toe sê ek vir my vrou (Ronelle) ek moet iets doen om my ma se dood te verwerk. Die 40 dae ding het toe by my opgekom.”

Johan se fietswiele was nog aan die draai vir sy ma se 4 000km toe word sy vriend Danie Erasmus se lewe bedreig nadat hy COVID positief getoets is en in die hospitaal beland het.

“Toe trap ek vir hom ook 40 dae se 100km. Danie het dit gemaak, my pel is deur daardie verskriklike siekte en is vandag met ons.”

Daarna het Johan sy uitdaging opgeskuif na 60 dae, toe 100 dae, 200 dae en nou is hy besig om vir 365 dae elke dag 100km te ry.

“Ek bly lankal nie meer by 100km ’n dag nie. Party dae trap ek gemiddeld so 400km en ek het al 529km ook in ’n dag se tyd getrap. Maar dan voel ek dit aan my lyf die volgende dag of twee.”

Johan is ’n medestigter van die Fuel on Wheels omgeeprojek en met sy fietsryery is genoeg geld ingesamel om sowat 9 000 mense van kospakkies te voorsien. Sy huidige uitdaging gaan om geld in te samel vir kankerpasiënte en daarna gaan hy sy speke laat sing vir Burre Burger se droogtehulpfonds vir boere.

Johan sal vandag (Donderdag) op dag 168 van sy 365 dae uitdaging wees. Sy fiets se kilometerlesing het Dinsdag die 20 000km merk verbygesteek. Nou is hy al oor die halfpadmerk vir sy uitdaging om die om-die-wêreld-afstand kaf te trap.

“Ek skud partykeer my kop vir myself oor die verskriklike kilometers en dink dan wat doen jy Johan? Maar dit is waarvan ek hou. En wanneer ek by 365 dae kom, sal ek kyk hoe lyk die weer … want op mooi dae sonder wind is dit ek, my fiets, die oop pad en dalk ’n nuwe uitdaging.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article