KYK | Elandré se musiekvideo ‘Lieflik’ by Hoërskool Despatch verfilm

Elandré in aksie op sy Alma Mater, Hoërskool Despatch, se verhoog.

Foto: Verskaf

Lieflik . . .

Dit is hoe dit was toe die gewilde sanger Elandré Schwartz, ’n oudskolier van die Hoërskool Despatch, die musiekvideo van een van sy nuwe liedjies Lieflik by sy Alma Mater laat verfilm het.

Elandré raak nostalgies oor nostalgie. Hy sê reguit sy familie beteken vir hom baie en hy verwys dikwels na sy ondersteuningsmense, sy skool, en dorp waar hy grootgeword het.

“Ek het met my vorige album Rugsak besluit om my musiekvideos in die Oos-Kaap te begin verfilm. Ek wou wys hoe mooi dit hier is,” sê Elandré.

Lieflik se klank het sy inspirasie gevind in die Rockspaaider Band Battles en al die cool garage-bands wat my ouer broer na geluister het toe hy op hoërskool was. Dit het ’n gevoel van jeug en adrenalien wat vir my hoërskool in ’n neutedop saamvat.

“Ek wou die eeu oue gaping tussen veld en verhoog oorbrug. As ‘n voormalige kultuurkind, was dit vir my belangrik om te wys dat jy nie noodwendig in die rugbyspan hoef te wees nie om jou merk te maak. Dit gaan oor gees en ‘n waardering vir mekaar se gawes, ongeag ons verskille in vaardigheid,” sê Elandré.

In dié musiekvideo hou Elandré se oud-skoolhoof, Colin Bartle, sy lyf met kitaar en al pure rocker.

“Dit was ‘n fees om Meneer Bartle in hierdie video te kon hê. Hy het die skool met ‘n ysterhand bestuur, maar het ook Maandagoggende met sy kitaar en stem die voorsang gelei. Hy het musiek ‘n groot deel van ons opleiding en spanbou gemaak.

“Meneer Bartle het my in moeilike tye uitgehelp en in ander tye harde raad uitgedeel. Hy was altyd ‘n bok vir sports, en ek is bly dit was ook so met Lieflik se video.”

Dié Meneer Bartle sê dit was vir hom ‘n groot voorreg en ’n eer om in die video baskitaar te speel.

“Ek is mos self ’n musikant en Elandré weet dit. Tydens verlede jaar se matriekafskeid het Elandré onverwags daar opgedaag en my kitaar gebruik om vir die matrieks ’n show te gee.

“Hy het dié aand genoem dat hy altyd in die saal gesit en kyk het hoe ek kitaarspeel en sing, en gedink het hy wil dit ook eendag doen. En daardie aand het hy met dié einste kitaar opgetree.”

Nog twee Bartles wat ‘n nou pad met Elandré in sy skooljare gestap het, is sy drama-onderwyser Lee-Anne Snyman (néé Bartle) en sy musiekonderwyser Lynne Gouws (néé Bartle).

Lynne Gouws en Elandré Schwartz.

Lynne sê die verfilming van die video was baie spesiaal. “Ek was trots en hartseer, want ‘n musiekpad kan soms ‘n baie alleenpad wees omdat dit soveel van jouself en jou emosies vat.

“In Elandré se skooljare het hy byna elke dag ’n klas gebunk om klavier in my musiekkamer te speel. Ek het baie met hom geraas, veral omdat hy op daardie stadium nie eers musiek as vak geneem nie.”

Later het hy musiek as vak begin geneem en in die koor gesing.

“Hy wou net solo sing. Dan sê ek, wag, jou beurt sal kom! En uiteindelik in 2012 het Elandré sy kans gekry. En dit was ‘n hoogtepunt, die jaar toe Hoërskool Despatch die ATKV-Applouskoorkompetisie in Kaapstad as die beste Afrikaanse gemengde koor in die land gewen het.

“Elandré wou ook altyd graag rugby gespeel het, maar dit was nou iets waarvoor hy aangelê is nie. So, met dié musiekvideo het hy met sy sang en kitaar sy merk op die rugbyveld gemaak.”

Elandré maak sy debuut op die rugbyveld, kitaar in die hand!

Oor dié musiekonderwyseres sê Elandré: “Lynne het my gelei en begelei in van my belangrikste vormingsjare. Dit is onder haar leiding wat ek in unisoon of solo my stem gevind het. Koor was vir my ‘n veilige plek, en sy het verseker dat dit was.”

Elandré was onlangs op sy eerste internasionale toer na Australië en Aotearoa.

Lynne sê dit maak my trots op Elandré, “want hy is ‘n go getter en nothing held him back. Hy is ongelooflik nederig, hardwerkend, hy het stamina en pizzaz. Hy is n ware entertainer en ritme is deel van sy DNA. Hy dans net so goed as wat hy sing. Elke greintjie in sy liggaam geniet elke oomblik van dit wat hy doen.”

Elandré sê hy waardeer hierdie erkenning van sy oud-juffrou opreg “Veral van iemand soos sy wat my al baie lank sien strewe om die beste van myself te kan wees.

“Ek is bly om hierdie band weer te kon besoek en om saam met Lynne, Meneer Bartle, my vriendin Shaunte, videograaf Christian en al dié skoliere hierdie liefdesbrief aan my hoërskool te kon opvoer. Om terug te keer na die verhoog waar ek as skolier die meeste tyd deurgebring het, is besonders spesiaal.”

Leerders van Hoërskool Despatch is deurentyd in die musiekvideo te sien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article