Eienaars van goed-opgepaste, rare, klassieke of interessante motors én motors met indrukwekkende klankstelsels word uitgenooi om dié vierwiel-trots van hulle by die eerste van sy soort motorskou by Corkwood Square Mall op Kariega te gaan parkeer.
Die motorskou word op Saterdag, 3 Desember van 09:00 tot 12:00 in die onderdak-parkeerarea van die winkelsentrum gehou, dus sal die weer geen impak op verrigtinge hê nie. Deelname is gratis en daar wag goeie pryse vir kategoriewenners sowel as verskeie gelukkige trekkings. Die publiek word uitgenooi nie net om die motors te besigtig nie, maar ook om te beoordeel.
JP van Staden van Corkwood Square Mall, een van die motorskou se organiseerders, sê, “Die idee met die motorskou is om die mense van Kariega en omliggende areas die geleentheid te bied om ‘n gesellige kuieroggend, waar daar oor motors en klank gepraat word, te kom geniet.”
Buiten die motorskou word ‘n klankkompetisie (motors se klanktoerusting word getoets en gemeet) gehou sowel as ‘n Show & Shine, waartydens die publiek die kans gegee word om vir die drie netjieste en mooiste motors op die skou, deur middel van ‘n tradisionele stembriefie-metode te stem.
Die wenner van die klank-kompetisie sal ‘n R1 000 geskenkbewys kry. Die drie wenners wat deur die publiek aangewys word, sal onderskeidelik geskenkbewyse van R1 000, R600 en R400 wen. Dan is daar ook nog sowat 45 gelukkige trekkings vir die res van die motor-inskrywings.
Stalletjiehouers wat kosse en handwerk verkoop word uitgenooi om hul produkte by die motorskou te verkoop. Staanplekke is R100 (sonder krag) en R150 (met krag).
Die publiek kan ook verskeie geskenkbewyse wen wat deur die loop van die oggend deur Corkwood Square Mall uitgegee word. Luister!FM sal vanaf die motorskou hul oggendprogramme uitsaai.
- Vir meer inligting om jou motor by die motorskou te parkeer of om ‘n stalletjie te bespreek bel JP van Staden by 072 230 0693.





