Agtien jaar gelede het Ruben Ross as ongebore baba ’n beroerte in sy ma se baarmoeder gekry. Dit is twee maande na sy geboorte bevestig nadat sy ma Cindy bekommerd geraak het oor sekere abnormale verskynsels aan die linkerkant van sy liggaampie.
Mediese ondersoeke het uitgewys dat Ruben die beroerte aan die regterkant van sy brein gehad het – wat ’n invloed op die spiere aan die linkerkant van sy liggaam het.
“Maar ek wou steeds rugby speel soos die ander kinders, ek wou atletiek doen, alles, maar dan val ek uit,” vertel Ruben. Tog het hy nooit moed verloor om ook ’n goeie sportman te kan wees nie.
Sy keerpunt het gekom toe hy op ’n dag in 2019 by die Hoërskool Brandwag, as atleet van die Hoërskool Despatch, diskus gegooi het. Vanweë die beperking van sy linkerkantste spiere, gooi Ross vanuit ’n staande posisie en draai nie soos die ander diskusgooiers nie.
‘Keerpunt in my lewe’
Sonder dat hy geweet het, het ’n vrou hom op daardie Brandwag-dag dopgehou, die potensiaal in hom raakgesien en met Ruben se ma Cindy daaroor gepraat en haar aangeraai om hom na die Northern Lights skool te neem, sodat hy deur die South African Sports Association for Physically Disabled (SASAPD) volgens sy gestremdheid geklassifiseer kan word om sy sport ten volle te beoefen.
Vandag praat Ruben só oor die vrou: “Tannie Malana (Gerber) was die keerpunt in my lewe. Danksy haar het sport my lewe verander. Ek kon twee jaar gelede die diskus skaars 16-meter ver gooi. Nou het ek ’n SA-diskusrekord van 21.36-meter agter my naam,” sê Ruben, ‘n graad 12 leerder by Hoërskool Despatch.
“Weens my voorgeboorte beroerte is my linkerarm, -been, en oog aangetas. Ek is deur SASAPD as ’n F35 geklassifiseer en kompeteer nou teen atlete met soortgelyke gestremdhede.
Mikpunt in my lewe’
“My mikpunt is om op internasionale vlak deel te neem. Om daar ook ’n rekord agter my naam te kry.”
In Maart gaan Ruben na Kaapstad waar hy aan die SASAPD nasionale atletiekkampioenskappe gaan deelneem in die o.20 F35-klas. Hy is ook geregistreer om internasionaal deel te neem.
Ruben se ma, Cindy Ross, sê, “As hy in Kaapstad goed presteer, sal hy op die internasionale ranglys kom. Dan is daar die geleentheid om in Frankryk te gaan deelneem.”
Ruben word op Dinsdae en Donderdae deur Edward Brown in diskus afgerig. Die ander drie weeksdae oefen hy in die gimnasium waar sy persoonlike afrigter Jacques Fourie hom help om sy spiere sterk te maak.
Cindy sê Ruben is oënskynlik normaal gebore. “Op twee maande het ons opgemerk sy linkerogie het gespring en hy kon nie met sy linkerhand vat nie. Nadat breinskanderings gedoen is het dokters bevestig dat hy ’n voorgeboortelike beroerte gehad het.
“Ek het baie lae bloeddruk gehad en dit het waarskynlik sy beroerte veroorsaak. Ruben was vir baie behandelings by fisio’s, arbeidsterapeute, het ’n operasie aan sy linkerbeen gehad, en moes voetstutte dra.
“Sedert hy intensief begin oefen het, het sy liggaam baie versterk en is my kind ’n ander mens. Daar is baie uitdagings, maar ek dank die Here dat hy vir my ’n positiewe kind gegee het. Ek is baie trots op hom,” sê Cindy.
Inspirasie vir ander
Ruben sê hy wil ’n inspirasie wees vir ander wat met sekere beperkinge moet saamleef en wat sukkel met aanvaarding daarvan. “Eers toe ek aanvaar het dit is hoe ek is, kon ek ophou om myself met ander te vergelyk en kon ek sukses en vreugde op my manier bereik.
“Ek wil graag sielkunde studeer omdat ek mense wil help om nie op die negatiewe te fokus nie. Ten spyte van wat met my gebeur het, is die Here vir my baie goed. Sy goedheid is my grootste geskenk en ek wil dit met ander deel.”
Benewens sport, is Ruben ook ’n akademiese uitblinker. Hy is een van die top 10 akademiese leerders in graad 12 by Hoërskool Despatch. Met 2022 se prysuitdeling het hy sy akademiese volle-erekleure ontvang; is aangewys as die senior sportman van die jaar; en hy het ’n trofee van die ouerondersteunersklub ontvang vir sy besondere prestasie in diskus.
In een van sy onderwysers, Adamina Smit, se klas is daar vyf “ere-plakkate” opgeplak van oud-leerders en leerders wat uitsonderlik op kultuurgebied presteer. Daar is ’n plakkaat van Elandré Schwartz, Almondré Roman, Ruben Myburgh, Kelly Oosthuizen en die nuutste plakkaat is van Ruben Ross.
“Ek het vir Ruben gesê daar is net twee plakkate van sporthelde in my klas. Een daarvan is hy. Ek is bang dat ek al op pensioen sal wees wanneer hy ’n Olimpiese wenner word, so ek sit sy plakkaat nou al op sodat dit vir hom kan dien as inspirasie,” sê Smit.
“Die rede waarom Ruben my so beïndruk, is omdat hy die mooiste mens met die mooiste maniere is. Waardig, nederig, ’n harde werker, en hy laat hom nie onderkry nie. As daar eendag êrens, dalk in die hemel, ’n podium gaan wees en ons gaan pryse ontvang in menswees, gaan Ruben beslis heel bo staan en die eeste in menswees ontvang.”
Smit vertel die ander sportplakkaat in haar klas is van James van Rensburg, ’n oud-leerder van 1993 wat in sy matriekjaar na ’n motorfietsongeluk die gebruik van sy linkerarm verloor het.
“Hy het nie dat dit hom onderkry nie. James is ’n berg/veldfiets-entoesias en ’n Afrika-kampioen wat al in baie lande, met net een arm, gaan deelneem het.
“Dis sulke mense met fisieke uitdagings, wat hul nie daardeur laat onderkry nie, wat my inspireer en beïndruk,” sê Smit.
Ruben is opgewonde oor sy toe-koms. “Tog wonder ek soms, as dit nie vir tannie Malana was wat daardie dag langs die diskusveld gestaan het nie – as sy my nie raakgesien het nie – sou ek nie vandag die mens kon wees wat ek is nie?”


